>

>

Personeel en studente skitter by talentfees

Fotos: Annemarie Wichmann het al die foto’s geneem, behalwe waar anders gemeld.

Talent in oorvloed – die 35ste Pukki Talentfees vir personeel en studente was ’n ontploffing van kragtige optredes, genotvolle klassieke ervarings en buitengewone talent.

 

 

Kreatiwiteit kry vlerke

 

Behalwe die kategorieë vir uitvoerende kunste, kon studente kreatiewe kunswerke soos skilderye, grafiese ontwerpe, beeldhouwerke, poësie en prosa in die kategorie vir skeppende kunste inskryf.

 

Verlede jaar se wenner het weer so gemaak. Gretchen Crots, die algehele wenner van die kuns- en ontwerp-kategorie, het die Visekanselierstrofee as die algehele wenner van die kreatiewe afdeling gewen, terwyl Ernest Else die kategorie vir oorspronklike skryfwerk (poësie en prosa) gewen het.

 

 

Die gala-opvoerings van die jaarlikse fees, wat deur NWU Kunste – Potchefstroomkampus en die Studenteraad se Kunsteraad op die kampus in Potchefstroom aangebied word, was op 10 en 11 Mei.

 

Hierdie jaar se wenner in die personeelkategorie was Adriaan Jacobs, ’n senior laboratoriumtegnikus by die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding. Adriaan is ’n begaafde buikspreker wat lewe gee aan sy gevatte pop, Charlie. Hulle vermaaklike optrede was ’n gunsteling by die gehoor, en het aan hulle die topplek in die kompetisie besorg.

 

Hy lê woorde in hulle mond

 

“Die aanleer van buikspraak is baie soos om ’n nuwe taal te leer,” sê Adriaan, wat ’n buikspreker is sedert hy sewe jaar oud is. “Mettertyd word dit meer natuurlik en na ’n ruk dink ek nie meer aan wat om te doen terwyl ek praat nie. Die klanke word spontaan gevorm.”

 

Adriaan sê toe hy begin het, was hy die jongste kind in Suid-Afrika wat buikspraak gedoen het. Sedert daardie dae het hy by verskillende plekke opgetree. “Ek kombineer buikspraak dikwels met sang om dit meer vermaaklik te maak. Die gehoor is dol daaroor.”

 

Hy het ook meer as een “vennoot” in sy vertonings. Benewens Charlie, vermaak Kosie en Gawie ook die skares (hoewel hulle nie aan die talentfees deelgeneem het nie). “Die uitdaging is om aan elkeen van hulle ’n eiesoortige persoonlikheid te gee en hulle altyd geloofwaardig te maak.”

 

’n Taal genaamd kuns

 

Jaco van der Walt, bestuurder van NWU Kunste – Potchefstroomkampus, sê hulle skep platforms vir studente en personeel se talent. “Die Pukki Talentfees is ’n ideale plek om talent te ontdek.”

 

Hy sê kuns is ’n universele taal en dit is belangrik om in hierdie taal te belê omdat dit brûe tussen mense en kulture bou.

 

“Die fees duur ’n week lank en begin onder andere met Pukki Visueel en Pukki Klassiek, en eindig met die galageleenthede.

 

Benewens die studente en personeel wat optree, word die feesgangers ook blootgestel aan verskillende genres van kuns, wat teater, dans, klassieke musiek en die beeldende kunste insluit.”

 

Hy sê dit is wat die fees ekstra spesiaal maak. “Tydens die uitvoerings kan hulle byvoorbeeld enigiets van Verdi en Mozart tot balletitems teëkom, en rock- en poporkeste geniet. Hulle word aan allerhande kuns en vermaak blootgestel wat hulle dalk nie gewoonlik ervaar nie.”

Adriaan sê dit was ’n groot eer om die eerste prys by die Pukki Talentfees te wen. “Dit was ʼn wonderlike ervaring en ek is bevoorreg om deel van so ’n topgehalte-gebeurtenis te kon wees.” (Klik op die video hierbo om te hoor wat Charlie te sê het.)

 

Rochelle Langford, administratiewe assistent vir sosiale media en bemarking in die Eenheid vir Voortgesette Onderwys, was tweede en haar optrede was een van die hoogtepunte van die aand. (Klik op die video hieronder om na haar sielvolle vertolking van Dusty Springfield se “Son of a preacher man” in die styl van Joss Stone te luister.)

 

 

Klik op die foto's hieronder en geniet die vertonings van die kategoriewenners.

LEES MEER