>

Kobus Filmalter, die verdedigende Gauteng Kanomaraton se veteraankampioen, is mal oor roei.

BEWEEG AF

Die water is glad. Waar die Vaalrivier sy oewers ontmoet, hang wilgerbome se arms soos dié van verveelde tieners. Kobus Filmalter hits sy K2-kano met egalige, ritmiese hale aan: links, regs, links, regs.

 

Dan word die stilte deur ʼn bekende kreet verbreek. Kobus kyk op en sien hoe die visarend, skildwag van hierdie waters, sy wit nek trots agteroor gooi en sy kreet herhaal.

 

Die volgende onderbreking, ʼn stroomversnelling, sorg vir ʼn tandknersende uitdaging.

 

“Jy roei op ʼn plat stuk water en dan begin die rivier vinniger vloei wanneer jy nader aan ʼn stroomversnelling kom,” vertel Kobus, projekbestuurder by Infrastruktuur en Beplanning op die Vaaldriehoekkampus.

 

“Dit klink soos ʼn verwoede waterval. Alles druis. Dan kom jy by die golwe en die skuim – woeste water oral om jou. Jou adrenalien pomp. As jy op die klippe val, beskadig jy jou kano, om nie eers van jou eie beserings te praat nie.

 

“Om deur ʼn groot stroomversnelling te gaan, is soos ʼn kind se eerste dag op skool. Dit maak jou in die begin bang, maar as jy eers daardeur is, kan jy nie wag om terug te gaan nie.”

 

LEES MEER

>