>

FOKUS

OP

V: Wat is die hoofdoel van hierdie beleid?

A: Die beleid verhoog mense se bewustheid van die legio slaggate waarin gebruikers van sosiale media soms onwetend beland. Hierdie slaggate kan verreikende regsimplikasies inhou en ons handelsmerk groot skade berokken.

 

Die beleid bied praktiese riglyne en inligting om te verseker dat die NWU se sosialemediaplatforms aan die universiteit se korporatiewe identiteitstandaarde voldoen.

 

V: Waarom is so 'n beleid nodig?

A: 'n Oudit het onthul dat daar meer as 300 NWU-verwante sosialemediarekeninge bestaan. Baie van hierdie rekeninge is deur studente, personeel, en selfs van die NWU se navorsingsentrums en skole geskep sonder inagneming van die NWU se strategiese doelwitte en korporatiewe identiteit.

 

Sommige is vir spesifieke funksies en geleenthede geskep en dryf nou vergete in die kuberruim rond, gevul met verouderde en irrelevante inligting.

 

Dit is waarom ons hierdie beleid in samewerking met rolspelers regoor die universiteit begin saamstel het. Dit is einde 2016 gefinaliseer en deur die Raad goedgekeur.

 

V: Wat is die voordele van die implementering van hierdie beleid?

A: Sosiale media moet nooit onderskat word nie. Dit is 'n belangrike platform wat, indien dit reg aangewend word, 'n kragtige hulpmiddel in die uitbou van 'n handelsmerk kan wees.

 

Die beleid bied riglyne aan sosialemedia-rekeninghouers om sosialemediaplatforms te skep wat nie net wettig is nie, maar tot voordeel van die NWU strek.

 

Dit maan NWU-personeel en -studente ook om mooi te dink voordat hulle kommentaar oor die NWU op persoonlike sosialemediarekeninge soos Facebook en Twitter plaas.

 

V: Wat is die implikasies vir diegene wat nie aan die beleid voldoen nie?

A: Daar sal regsimplikasies of dissiplinêre stappe wees indien iemand sosialemediaplatforms skep wat teen die NWU se gedragskode indruis of op een of ander wyse laster of naamskending bevorder.

 

V: Is daar ondersteuning vir die NWU se nuwe sosialemediapraktisyns?

A: Die NWU het 'n sosialemediaforum wat uit verteenwoordigers van al ons besigheidseenhede bestaan. Hulle sal saamwerk om opleiding en hulpbronne aan personeel, studente en ander NWU-verwante sosialemediapraktisyns te verskaf.

Vir meer inligting, skakel vir Moira by X99 4913 of stuur ʼn e-pos na moira.muller@nwu.ac.za.

 

Die volledige nuwe NWU-sosialemediabeleid is hier beskikbaar.

BEWEEG AF

LEES MEER

>