NWU verwelkom ’n nuwe geslag

NUWE AANKOMELINGE

Die opwinding was tasbaar, maar daar was ook ʼn tikkie senuweeagtigheid. Glimlagte, maar ook baie vrae was volop. Daar was ʼn gevoel van afwagting in die lug waar studente die verwelkomingsgeleenthede vir eerstejaars saam met hul ouers op die NWU se Mafikeng-, Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampus bygewoon het.

 

Die NWU het vanjaar sowat 9% meer eerstejaars ingeneem as wat die teiken was. Hierdie studente van regoor Suid-Afrika en naburige lande het die eerste tree gegee in die rigting van ʼn vervullende akademiese toekoms. Studente het ʼn draai by hul koshuise gemaak en is aan akademiese en ondersteuningspersoneel voorgestel om ʼn gladde oorgang van skool na universiteit te verseker.

 

“Onthou ek het ʼn afspraak met jou – by jou gradeplegtigheid oor ʼn paar jaar,” het prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, gesê toe die Potchefstroomkampus op Saterdag, 14 Januarie duisende studente en hul ouers op kampus verwelkom het.

 

Hy het ʼn baie spesifieke boodskap vir die ouers gehad. “Ek wil u die versekering gee dat die stabiliteit van ons kampusse van uiterste belang is. Ons het verlede jaar se akademiese program suksesvol voltooi en sal alles in ons vermoë doen om dit weer reg te kry.”

 

Die volgende dag het die Mafikengkampus hul volgende geslag studente, saam met hul ouers, verwelkom. Prof Dan het die ouers geloof vir hul verbintenis tot ʼn voorspoedige toekoms vir almal. “Wanneer ʼn kind na ʼn hoëronderwysinstansie toe gestuur word, gebeur dit in die hoop dat daardie kind eendag op sy beurt iets vir die gemeenskap sal doen.”

 

Op 4 Februarie het die Vaaldriehoekkampus ook húl eerstejaarstudente verwelkom. “Elke jaar het ek die voorreg om die nuwe studente te ontmoet, en verwonder ek my opnuut oor die opwinding en afwagting waarmee hulle by ons universiteit aansluit,” het prof Dan gesê. “Ek is ook baie trots om te weet dat wanneer julle jul studies voltooi het, julle toegerus sal wees om ʼn tasbare verskil in jul onderskeie gemeenskappe te maak.”

 

Wat veral opgeval het op al drie kampusse was prof Dan se versekering dat daar geen kompromieë aangegaan sal word oor die gehalte van onderwys of oor die veiligheid van studente nie.

 

ʼn Nuwe generasie staan aan die begin van ʼn merkwaardige reis en hul toekoms lyk inderdaad blink.

 

Loading...

BEWEEG AF

>

>