Niks kan die NWU keer om sy beste navorsers te vereer nie; selfs nie ’n pandemie nie.
Uitnemendheid was die gonswoord toe die universiteit sy allerbeste navorsers en innoveerders tydens ’n virtuele toekenningsaand op 3 Desember 2020 vereer het.
Dié geleentheid, waartydens hulle uitnemendheid in navorsing in 2019 erken is, was uniek. Die seremonie is vir die eerste keer ooit virtueel aangebied, daar is vir die eerste keer erkenning gegee aan navorsers aan wie tweede plekke toegeken is en ʼn nuwe kategorie is bygevoeg.
Teoloog weer in die kollig
Die Fakulteit Teologie se prof Marius Nel het vir die tweede agtereenvolgende jaar die gesogte toekenning as die produktiefste navorser van die jaar ontvang. Hy ondersoek die invloed van Afrika-pentekostalisme op die verskillende maniere waarop die Bybel gelees en uitgelê word.
Kort op sy hakke was prof Danie Meyer, ’n ontwikkelingsekonoom en voormalige direkteur van die Handel en Ontwikkeling-navorsingsentiteit (TRADE) in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, wat tweede in hierdie kategorie was.
Ontluikende navorsers skitter
Prof Ruan Kruger was die wenner in die nuwe kategorie vir die produktiefste opkomende navorser. Ruan is die navorsingsleier van die NNS SARChI Navorsingsleerstoel in die Vroeë Opsporing en Voorkoming van Kardiovaskulêre Siekte in Afrika, wat deur die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) se sentrum van uitnemendheid gehuisves word.
Dr Zandri Dickason-Koekemoer van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe was tweede in hierdie kategorie. Zandri spesialiseer in finansiëlerisikobestuur.
Ander presteerders op die voorpunt
Prof Leenta Grobler en dr Henri Marais van die Fakulteit Ingenieurswese het die innovasie-impaktoekenning ontvang vir hulle bydraes ten opsigte van digitale gesondheidsverwante ingenieursinnovasies.
Dr Aurelia Williams van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe was die wenner in die kategorie vir nasionale en internasionale erkennings en lidmaatskappe. Sy is op die Mail & Guardian se lys van die top-200 jong Suid-Afrikaners vir 2019 in die Wetenskap en Tegnologie-kategorie.
Om te sien wie anders toekennings ontvang het, klik hier. Indien jy die volledige berig oor die toekennings en die toppresteerders wil lees, kan jy hier klik.
Kyk gerus na hierdie video om meer uit te vind oor die uitstekende werk wat ons navorsers en innoveerders doen en die waardering wat die NWU-leiers daarvoor het.
NWU-navorsers oorkom die Covid-19-uitdagings
Die Covid-19-pandemie het nie die NWU-navorsers se geesdrif gedemp nie.
Terwyl hy oor die huidige stand van navorsing aan die NWU gepraat het, het prof Frans Waanders, waarnemende adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, gesê navorsing by die NWU het in die meeste gevalle voortgegaan en daar was selfs ʼn verbetering in die skryf en indiening van vaktydskrifartikels vergeleke met 2019.
Prof Linda du Plessis, adjunkhoof en adjunk-visekanselier vir beplanning en Vanderbijlpark-kampusbedrywighede, het gesê nadat sy na al die prestasies geluister het, was woorde nie genoeg om die dankbaarheid uit te spreek vir die deursettingsvermoë en toewyding wat navorsers teenoor hulle werk getoon het nie.
Visekanselier prof Dan Kgwadi het gesê die NWU-familie is waarlik geïnspireer deur die harde werk van navorsers en hy voel geëerd om elke navorser en innoveerder wat ’n toekenning ontvang het, geluk te wens. “Dankie dat julle ons trots gemaak het,” het hy afgesluit.