Hoe studente
ONDERRIG EN LEER
@NWU ervaar
Golishwe, ’n Opvoedkunde-student, druk die “dien in”-knoppie en sit terug in haar stoel. Sy het so pas die laaste module-opname vir die evaluering van haar ervaring van onderrig en leer by die NWU voltooi.
Hierdie denkbeeldige scenario som die proses op wat plaasgevind het toe 65 000 response ingesamel is toe studente die vraelyste oor hulle onderrig- en leerervaring ingevul het wat gedurende die eerste en tweede semester van 2020 uitgestuur is.
Robyn Bunt is verantwoordelik vir die jaarlikse onderrig- en leerervaringsopnames onder studente.
Klik op die skakel om meer te lees.
Die oorkoepelende resultate van hierdie twee opnames toon dat studente ’n bietjie minder tevrede is met onderrig en leer in 2020 vergeleke met die vorige jaar.
“Hierdie resultaat is verstaanbaar, aangesien die pandemie veroorsaak het dat alle kontakstudente na afkampusleer moes oorskakel,” sê Robyn Bunt, ’n junior akademiese ontwikkelaar by die Sentrum vir Onderrig en Leer, wat vir hierdie projek verantwoordelik is.
Waaroor gaan hierdie opnames?
Die jaarlikse opnames evalueer die gehalte van onderrig en leer in ’n module en stel vas hoe studente dit ervaar.
“Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding vereis dat instellings opnames maak oor studente se ervarings van onderrig en leer,” verduidelik prof Robert Balfour, die adjunk-visekanselier vir onderrig en leer.
Hy sê universiteite doen verslag oor hierdie opnames wanneer hulle motiverings vir subsidies van die departement indien.
Daar is drie kategorieë vrae wat in die opnames gevra word: onderrig en leer, assesseringsgeleenthede, en studiegids- en module-evaluering. Kom ons kyk eers na die resultate in die onderrig- en leerkategorie.
Eer vir ondersteuning van dosente
Die aspekte wat die hoogste tellings vir tevredenheid in hierdie kategorie gekry het, was die dosente se gebruik van eFundi en die verskillende hulpbronne wat hulle gebruik het om studente se leer te ondersteun.
Die hoë tevredenheidskoers hier kan toegeskryf word aan die ekstra moeite wat dosente tydens die Covid-19-pandemie gedoen het om hulle vlak van ondersteuning te verhoog en om studente te help om van kontak- na afkampusleer oor te skakel. “Talle dosente het video’s en kommunikasiekanale soos WhatsApp gebruik,” verduidelik Robyn.
Die aspek wat die laagste telling behaal het, was die verskeidenheid van onderrig- en leerstrategieë. “’n Mens kan dit verstaan,” sê Robyn, “aangesien dosente by die beginsels moes hou wat voorgeskryf word om vir studente oor ’n afstand onderrig te gee.”
Volgens hierdie beginsels moet inhoud en aktiwiteite op eFundi gebaseer word, dit moet op mobiele toestelle gebruik kan word en lae tegnologie vereis (eenvoudige basiese instrumente benodig), en moet probeer om min data te gebruik en nie ’n onmiddellike reaksie vereis nie (aangesien dit nie altyd moontlik is vir studente om onmiddellik te reageer nie).
Assesseringsgeleenthede is oukei, dankie
In die tweede kategorie het die studente saamgestem dat hulle genoeg deurlopende geleenthede gekry het om hulle leer deur gereelde assesserings te evalueer.
Robyn glo dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die benadering van deurlopende assessering wat die NWU aanvaar het om sy studente tydens die pandemie te ondersteun.
Sy voeg by dat dit een area was wat laer as in vorige jare gegradeer is. “Die studente het beleef dat die terugvoer oor assesserings ietwat minder nuttig was en dat dit nie hulle begrip verbeter het nie.” Persepsies het egter gedurende die tweede semester verbeter.
Goedkeuring vir studiegidse en modules
As daar na die resultate in die derde kategorie gekyk word, lyk dit of die studente gedurende die tweede semester meer tevrede was met die studiegidse en die uitleg van hulle module-inhoud as in die eerste semester.
Hulle het aangedui dat die module-inhoud goed georganiseer is en dat die assesseringsplan tot hulle beskikking was.
“Dit lyk of dosente gemakliker geraak het met die nuwe normaal van aanlyn werk en dat hulle seker maak dat studente al die inligting wat hulle nodig het, maklik in die hande kan kry,” sê Robyn.
Benut die resultate
Die opsommingsverslag van die resultate van die opname word met die fakulteitsbestuur gedeel en die individuele verslae word via Nextcloud met die dosente gedeel.
Robyn sê die doelwit vir 2021 is om meer noukeurig na die data te kyk en vir die fakulteite verslae te gee wat hulle kan gebruik as gereedskap om, indien nodig, intervensies te implementeer.
Sy voorsien dat al hoe meer dosente in die toekoms deel van hierdie proses gaan word. “Sedert die opnames vanaf 2018 aanlyn aangebied word, het dit vir die meeste dosente ’n rukkie geneem om daarby in te skakel, maar noudat die proses glad verloop, verwag ons dat meer van hulle sal deelneem.”
Meer response verras
’n Verrassing is dat die getal response van kontak- en afstandstudente van omtrent 62 000 in 2019 tot ongeveer 65 000 in 2020 toegeneem het.
“Dit kan aan ’n verskeidenheid faktore toegeskryf word, soos dat meer dosente aan die aanlyn opnameproses deelneem, of dat studente gemakliker is met die aanlyn omgewing noudat ons na afkampusonderrig en -leer oorgeskakel het,” sê Robyn Bunt van die Sentrum vir Onderrig en Leer, wat saam met Gerda Schilling van IT aan hierdie projek werk.
x
Meer
response
verras