>

LEES MEER

>

SALA sorg vir alle studente

Prof Manie Spamer is die hoofdirekteur van Studente Akademiese Lewenssiklus Administrasie (SALA).
SALA-direkteur Lourens Kruger werk op die kampus in Potchefstroom.
Franco Nkoana is die SALA-direkteur op die kampus in Mahikeng.
Die direkteur vir SALA op die kampus in Vanderbijlpark is Neels Vermeulen.

Beweeg oor foto's om meer te lees

In ʼn unitêre universiteit word alle studente gelykwaardig behandel, en moet hulle aan dieselfde standaarde voldoen en dieselfde programinhoud baasraak.

 

Studente Akademiese Lewenssiklus Administrasie, of SALA soos dit waarskynlik beter bekend is, maak seker dat hierdie unitêre ingesteldheid in die praktyk toegepas word.

Dié nuwe afdeling by die NWU spruit voor uit die herstrukturering van die registrateur se funksies op die onderskeie kampusse. Prof Manie Spamer is die hoofdirekteur van SALA en rapporteer aan die registrateur, prof Marlene Verhoef.

 

Administratiewe fases: A-Z

 

Die onderafdelings van SALA sluit alle administratiewe fases van ʼn student se loopbaan by die NWU in. Dit behels alles: van aansoeke tot toelatings, registrasie, kurrikulumkontrole, assessering (eksamens en vraestelle), klasroosters, studiegidse en -materiaal, en gradeplegtighede.

 

Manie sê SALA het alle registrateursfunksies vervang – op kampusvlak hanteer SALA-direkteure hierdie funksies. Lourens Kruger behartig sake in Potchefstroom, Franco Nkoana in Mahikeng en Neels Vermeulen in Vanderbijlpark.

 

Sekere SALA-funksies is gesentraliseer, byvoorbeeld aansoeke, eksamens en hoër grade, om te verseker dat dit op al drie kampusse dieselfde is. “Elke kampus het steeds ʼn hulptoonbank om studente te ondersteun.”

 

Nog ʼn verandering is dat ondersteuningspersoneel wat by fakulteite geplaas is, nou deel van SALA is en aan hulle rapporteer. Dit het meegebring dat die getal personeellede wat aan die registrateur rapporteer met sowat 350 toegeneem het en dat die SALA-hoofdirekteur en die uitvoerende bestuurspan van SALA hulle bestuur.

 

Belyn stelsels en prosesse

 

Studentestelsels soos die puntestelsel sorteer ook onder SALA en word tans op alle kampusse belyn. Manie sê goeie vordering is reeds met die belyning van sekere funksies op die drie kampusse gemaak. Gereelde gesprekke word met belanghebbers gevoer om die belynde prosesse te implementeer.

 

Volgens Manie is die hoofdoel van SALA dat dieselfde prosesse en beleide vir alle studente aan die NWU, insluitende afstandstudente, moet geld. “Alle eksamenvraestelle op die drie kampusse sal ook nou dieselfde wees. Studente sal dieselfde kwalifikasie met dieselfde inhoud en uitkomste ontvang, ongeag op watter kampus hulle studeer.”