>

>

LEES MEER

 

FOKUS

OP

BELEIDE

KRY NUWE BAADJIES

BELEIDE

In die belang van goeie bestuur moet elke organisasie beleide in plek hê om sy besluitneming te rig. Sulke beleide is egter nie ’n wet van Mede en Perse nie en moet gereeld hersien word om met beste praktyk en veranderende omstandighede tred te hou.

 

Eish! het met Amanda van der Merwe, die direkteur vir korporatiewe en inligtingbestuursdienste, oor die jongste beleidsveranderinge aan die NWU gepraat.

Amanda van der Merwe is die direkteur vir korporatiewe en inligtingsbestuursdienste.

V: Die NWU is besig om sy beleide te hersien en by te werk. Waarom is dit belangrik dat die personeel hiervan moet weet?

A: Baie personeellede is direk by die hersieningsproses betrokke. Selfs diegene wat nie direk betrokke is nie, moet egter weet of en hoe die beleide wat hulle werksomgewing beheer, verander het sodat hulle die manier waarop hulle werk daarvolgens kan aanpas.

 

V: Wat is die agtergrond van hierdie hersieningsproses?

A: Ná die onlangse herstruktureringsproses was dit nodig om die NWU se Statuut te hersien wat ingevolge die Wet op Hoër Onderwys die stigtingswetgewing vir die NWU is. ’n Deel van die oorgangsreëlings om ’n gladde oorgang na die hersiene Statuut te verseker, is om die beleide aan te pas en te aanvaar.

 

V: Waarom is dit belangrik om ons beleide te hersien?

A: Ons beleide moet in ooreenstemming wees met die hersiene Statuut, en ook met die beginsels van die King IV-verslag oor korporatiewe bestuur in Suid-Afrika.

 

V: Hoeveel beleide is daar altesaam?

A: Ons het 50 beleide wat deur die Raad goedgekeur is. Personeel kan hulle

hier lees.

 

V: Hoeveel van die beleide is reeds hersien?

A: Ses van die 50 beleide is in 2017 hersien en formeel deur die Raad goedgekeur. Dit is die volgende:

 

  • VSR se grondwet
  • Beleid oor die opstel en goedkeuring van reëls, beleide en prosedures
  • Skedule van magtigingsvlakke
  • Reëls vir die aanstelling van ampsbekleërs
  • Reëls vir die nominasie, verkiesing, toewysing en aanstelling van raadslede
  • Algemene akademiese reëls

 

V: Hoe werk die hersieningsproses?

A: Die Departement Korporatiewe en Inligtingbestuursdienste van die NWU hanteer die administratiewe sy van die beleidhersiening. Dit het in 2017 afgeskop toe die universiteit se bestuurspan begin het om daardie beleide in hulle onderskeie portefeuljes wat aanpassing vereis het, te hersien. Hulle het dit in samewerking met hul bestuurspanne en vakspesialiste gedoen.

 

Die proses werk soos volg: Ná die eerste hersiening word elke beleid na die Raad se Verfyningskomitee gestuur om dit te bestudeer en vir verdere insette – soos nodig mag wees – na die universiteit se bestuurspan terug te stuur.

 

Daarna word elke beleid by die Universiteitsbestuurskomitee (UBK) ter tafel gelê vir goedkeuring, waarna dit ’n uitgebreide konsultasieproses deurloop. Hierdie proses betrek verskillende bestuurstrukture, onder meer raadskomitees, die Senaat, senaatskomitees, die Institusionele Forum en fakulteitsrade.

 

Nadat alle insette gekonsolideer is, is die volgende stap om die beleid op die aanbeveling van die UBK of Senaat by die Raad ter tafel te lê. (Die Senaat beveel alle beleide met betrekking tot onderrig-leer- en navorsingsake aan.)

 

Elke beleid word ook in die proses taalversorg en deur Regsdienste bestudeer. Sodra dit deur die Raad goedgekeur is, word die beleid vertaal en op die NWU-web gepubliseer.

 

V: Wanneer kan ons verwag dat die proses voltooi sal wees?

A: Die oorblywende 44 beleide moet by die laaste raadsvergadering van die jaar in November 2018 finaal hersien en weer goedgekeur word.

 

V: Sal ons weer in die toekoms ons beleide moet hersien?

A: Ja, beleide en reëls word op ’n driejaar-rotasiebasis hersien om goeie korporatiewe bestuur en aanpassing by strategie-ontwikkeling en -implementering te verseker.