>

LEES MEER

>

Daleen

sien kans vir enige skeppende uitdaging

Talentvolle pottebakker Daleen Claasens is ook lief vir skilder.

Toe ’n vriend haar na ’n pottebakkersklas in Johannesburg nooi, het Daleen Claasens nie ’n idee gehad dat sy op die punt staan om verlief te raak nie.

Daleen Claasens se talente strek baie wyer as die skone kunste – sy is ook ’n meesterlike tafelversierder.

Hier is sy by ’n NWU-funksie waar sy vir die tafelversierings verantwoordelik was.

Haar pottebakkerstalent het in die ateljee van die befaamde pottebakker Digby Hoets ontwaak, en vandag word Daleen se pragtige keramiekstukke in haar kantoor in Gebou 7 op ons kampus in Vanderbijlpark uitgestal.

 

“Ek het eers besef aan watter ongelooflike geleentheid ek blootgestel word toe ek by Digby se klas aankom. Ons het in ’n ongelooflike ateljee gewerk en soveel geleer van ’n man met ’n merkwaardige kennis van die kuns,” onthou sy.

 

Digby Hoets gee reeds sedert 1973 klas in pottebakkery, en ’n mens kan sê hy is ’n pottebakkerskoning. Sy suster, Leslie-Ann Hoets, het ’n ateljee in Sedgefield in die Wes-Kaap, en sy broer, Garth Hoets, werk uit Hilton in KwaZulu-Natal.

 

Haar passie leef voort

 

Toe Daleen se reis haar na die Vaaldriehoek neem – waar sy tans die uitvoerende assistent van prof Susan Coetzee-van Rooy, die waarnemende uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe is – moes sy haar geliefde pottebakkery vir drie jaar lank groet.

 

Sy het haar passie egter nooit verloor nie. Sy het later weer kontak gemaak met Digby, wat ingestem het dat sy een keer ’n maand in sy ateljee kon werk en dat hy haar stukke sou bak. Aangesien Daleen beeldhouwerk eerder as sogenaamde “wielwerk” doen, kon sy ook klei huis toe neem en voortgaan met die kuns waarvoor sy so lief is.

 

Haar kreatiwiteit ken geen grense nie

 

Daleen se talente is nie tot pottebakkery beperk nie. Sy weef ook, doen kwiltwerk en ontwerp klere, onder meer haar dogter se trourok.  Haar kreatiwiteit sluit selfs koekversiering en skilder in.

 

Sy kry dit ook reg om nóg ’n tydverdryf in te pas. “Ek moet erken ek is ’n fanatiese leser,” glimlag sy.

 

Haar liefde vir die kunste is onvermydelik oorgedra aan haar dogter, Nina, wat die Pro-Arte Alphen Park Hoërskool in Pretoria bygewoon het.  Nina se sterk punte lê egter in die uitvoerende kunste, veral in sang en drama. “Vandag is sy ’n prokureur in Melbourne, Australië,” sê Daleen. “Ons kuier ten minste en keer per jaar en doen op die oomblik saam naaldwerk oor die internet.”

 

Haar wortels lê diep

 

Al werk sy reeds sedert 2009 op die kampus, lê Daleen se wortels by die NWU baie dieper.  Sy is ’n alumna van die kampus in Potchefstroom, waar sy in 1979 as ’n BA Tale-student begin het.  Haar pa, wyle prof Josef Henning, is ’n legende in die NWU se politieke wetenskap-omgewing, en haar ma – ook ’n produk van die NWU – is tans ’n afgetrede onderwyser ná jare se diens aan Potchefstroom Gimnasium.

 

Wat is volgende vir Daleen? Houtwerk! Daleen se man, Willem, het al die gereedskap en masjinerie wat nodig is, en hy kan haar leer. Maar dis nie al nie – sy wil ook graag met silwer werk en juweliersware maak.

 

Niemand kan die toekoms voorspel nie, maar in Daleen se geval weet jy dit sal met kreatiwiteit gevul wees.

 

 

 

 

Daleen doen beeldhouwerk eerder as sogenaamde “wielwerk”.