>

>

LEES MEER

gaan dit oor aksie

NWU-personeel glo dat – nes ʼn boog nie altyd gespan kan bly nie – ʼn mens ook nie kan aanhou werk sonder om soms te ontspan nie.

Fisiese oefening, tesame met die kameraadskap van ’n spanomgewing, verander die agt-tot-vyf-werksdag in ’n mededingende avontuur. Voorbeelde kom regoor die NWU voor.

 

Op die kampus in Mahikeng floreer netbal onder die personeel. Dat Mahikeng-personeelnetbalspan altyd hoog mik, is gewis. So is hulle dan ook as die kampioene gekroon tydens die toernooi van die Suider-Afrikaanse Universiteite Personeelsportvereniging (SAUSSA) vanaf 11 tot 16 Desember 2017 by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap.

 

Op pad na die 2017-kampioenskap het hulle die Sefako Makgatho Universiteit met 58 doele teen 3 geklop, die Universiteit van Zambië met 58-9, Unisa met 46-4, die Universiteit van Namibië met 39-24 en die Walter Sisulu Universiteit met 48-24. In die eindstryd teen Unisa het die span met 38 doele teen 15 gewen.

 

“Dit was ’n eer om as die kampioene van die 2017 SAUSSA-toernooi gekroon te word. Ons sien daarna uit om die trofee in 2018 te verdedig. Personeel wat belangstel om by ons personeelklub aan te sluit, kan my gerus kontak,” sê Eugenia March, skakelbeampte van die NWU Personeelsportklub.

 

Gee die bal aan

 

Op die kampus in Potchefstroom het Hilton Visagie, Aubrey Fransman en Leon Danster besluit die beste manier om ’n gesonde leefstyl te bevorder, is deur die pragtige spel van sokker. Volgens Leon, wat ’n administratiewe assistent by die Eenheid vir Voortgesette Onderwys is, het die idee om ’n sokkerspan vir personeel te stig, in Augustus 2017 gestalte gekry. “Tans het ons 30 tot 35 aktiewe lede, en die reaksie van ondersteunings- en akademiese personeel was fantasties.”

 

Spangees is baie positief, sê hy. “Sokker is een van daardie sportsoorte waaraan feitlik almal kan deelneem. Ons is ’n uiteenlopende groep met wonderlike afrigters. Voor ’n oefening vertel ons altyd ’n paar grappies, en ons deel op soveel vlakke ’n hegte band. Ons leer van mekaar, ons leer oor mekaar se kulture, en ons help mekaar. Dis ’n wonderlike ervaring.”

 

Mik hoog

 

Op die kampus in Vanderbijlpark bewys Anita Lennox en Monique du Plessis dat die lewe beslis nie vervelig is nie. Wanneer hulle nie lesings aanbied of navorsing oor ekonomie of rekeningkunde doen nie, haal hulle alles uit op die netbalbaan. Hierdie twee akademiese personeellede, onderskeidelik van die Skool vir Bestuurswetenskappe en die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe, is lede van die Team X-treme-aksienetbalspan.

 

Dit lyk asof hulle passie vir sport vrugte afwerp, want verskeie van hulle akademiese kollegas op die kampus het op die aksienetbalbaan by hulle aangesluit.

 

Hulle het in die sesde liga begin, maar het hulleself tot in die boonste liga gespeel. “Die eerste liga is baie mededingend,” sê Anita, en voeg by dat hulle oorspronklik gevra het om in ’n laer liga te speel, omdat dit vir hulle oor die liefde van die spel en die sterk gees van kameraadskap onder hulle gaan. Die groep speel reeds sedert 2015 saam netbal.