Orange Vaal Pros

maak Matome trots

>

>

LEES MEER

Matome Kgnakga, 'n bemarker op die NWU se kampus in Vanderbijlpark, is ná-ure die trotse operasionele bestuurder van die Orange Vaal Professionals-sokkerspan.

Die klanke van die Vuvuzela en die gejuig van ’n skare om die sokkerveld hou vir Matome Kganakga ʼn groot bekoring in.

As bemarker op die NWU se kampus in Vanderbijlpark ry hy gedurende kantoorure baie kilometers om die NWU te bevorder, maar na-ure fokus hy op die Orange Vaal Professional-sokkerspan en hulle reis na die top van hulle liga: ʼn taak waarin hy tot dusver baie suksesvol was.

 

Op pad doelhok toe

As eertydse eienaar van die span Manco Milano, het Matome daardie span gehelp om teen so ʼn ongelooflike pas te groei dat hulle die SAB-liga gewen en vir die ABC Motsepe-liga gekwalifiseer het. Toe die manne egter deurdring na die ABC Motsepe-liga, kon Matome sien dat ʼn reusekontantbelegging nodig sal wees.

 

Die oplossing waarop Matome en sy vennoot besluit het, was dat die span eerder van eienaars moet verander.  Toe hy weg is en as operasionele bestuurder by die Orange Vaal Professionals betrokke geraak het, het baie Manco Milano spelers hom gevolg.

 

In daardie stadium was die Orange Vaal Professionals onderaan die punteleer, maar met Matome se leiding het hulle onlangs ’n wedstryd teen die befaamde Moroka Swallows gewen en so tweede in hulle liga geëindig.

 

ʼn Oog vir detail

Die daaglikse werksaamhede van die Orange Vaal Professionals gebeur nie sommer vanself nie.  Dit verg deeglike beplanning, ʼn oog vir detail en goeie kommunikasievaardighede.  Matome sê sy jarelange ondervinding het hom geleer ʼn mens wen nie noodwendig ʼn sokkerwedstryd op die veld nie.  Daarom sal enige span wat onder sy operasionele bestuur speel hulle nooit oor vervoer, verblyf, salarisse, klerasie en ander logistieke hoef te bekommer nie.

 

Hierdie is egter maar net ʼn paar van sy take. Hy is ook die persoon wat met die spyseniers gesels oor die spesifieke diëte van die spelers en wat met die span se teenstanders praat oor fasiliteite vir die spelers wanneer hulle weg van die huis af speel.

 

Beplan vir die toekoms

Die langtermynsukses van sy spelers is vir Matome geweldig belangrik. “Ek moedig hulle aan om  voltyds te studeer en eers deeltyds sokker te speel. As dit goed gaan op die veld kan hulle later deeltyds studeer.  Wanneer hulle sokkerloopbane eendag verby is, moet hulle op hul kwalifikasies kan staatmaak,” sê hy.

 

Die Vaaldriehoek-gebied is volgens Matome ryk aan sokkertalent. Meer as die helfte van die spanne in die ABC Motsepe-liga het spelers van dié gebied in hul spanne. Dit geld ook vir die Orange Vaal Professionals-span – net een van hulle spelers kom nie van dié streek af nie. In die Premier Sokkerliga, wat die hoër liga is ná die Nasionale Eerste Afdeling, is daar tans net ses uit die totale 16 spanne wat nie ʼn Vaaldriehoek-speler op hul spanlyste het nie.

 

Sy aspirasies vir die span is om die ABC Motsepe-liga te wen en sodoende sy span in die Nasionale Eerste Divisie (NFD) te kan sien meeding.

 

Matome is met Patricia getroud en is die trotse pa van Boemo (3).