Hierdie personeellede stap die tweede myl

Die NWU het toegewyde personeel wat uit gewoonte meer as hul normale pligte nakom. In hierdie artikel in ons tweede-myl-reeks gee ons erkenning aan kollegas wat ’n verskil in ander mense se lewens maak.

As jy graag ’n kollega wil benoem wat altyd die tweede myl saamstap, stuur asseblief ’n e-pos aan willie.duplessis@nwu.ac.za. Onthou om jou postitel en die naam van jou departement of skool aan te dui, asook dié van die persoon wat jy benoem. Gee ook redes waarom jy dink dat die persoon die tweede myl stap.

 

Corrie Postma, senior bestuurder vir administrasie in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die NWU se kampus in Potchefstroom, sê die fakulteit is een van die grootstes by die NWU en kan nie sonder toegewyde personeel funksioneer nie.

 

“Ek wil vir Lindell Coetzee en Susan Lindeque, albei administratiewe beamptes vir hoër grade, Annelien Beckley en Riana Muller, albei administratiewe beamptes vir voorgraadse studente in onderrig en leer, en Almien Robberts, administratiewe beampte vir logistiek, vir hulle buitengewone bydraes tot die fakulteit loof. Hulle is die speke van die wiel wat seker maak alles verloop glad.”

 

Abram Mahlatsi, ʼn senior laboratoriumtegnikus by Mikrobiologie, is iemand wat die tweede myl saamstap. “Hy is baie kundig en deel graag sy kennis,” sê Lee-Hendra Chenhaka, ook ʼn laboratoriumtegnikus.

 

“Ek kan nie dink hoe ons vakgroep, Mikrobiologie, sonder hom kan funksioneer nie. Hy help almal met hul navorsing en ek glo dit is waarom die meeste van hulle uitblink. Abram, Abraham, Abes, Tladi, soos hy by verskillende mense bekendstaan, is werklik ’n buitengewone mens.”

 

 

 

 

 

Kobus Venter, dirigent by NWU-PUK Kunste, sê dat Peet Ryke, bestuurder, altyd ’n tweede myl saam met die studente stap. “Hy organiseer sedert 1993 Europese konserttoere vir die koor – alles op sy eie. Dit is ’n yslike taak, maar sy passie vir musiek en die kunste motiveer hom om te sorg dat die studente ’n merkwaardige ervaring het. Studente word nie net aan koormusiek van regoor die wêreld blootgestel nie, maar kry ook die geleentheid om verskillende kulture te ervaar.”

 

Kobus sê Peet se wonderlike loopbaan het as dierkundige begin, maar sedert die kunste sy hart aangegryp het, is hy 'n aktiewe kampvegter vir die kunste op die kampus in Potchefstroom. “Ek weet dat selfs as hy aan die einde van 2018 aftree, hy graag steeds aktief by die kampus se kunsaktiwiteite en die studente betrokke wil wees.”

 

BEWEEG OOR FOTO'S OM MEER TE LEES

>

>