>

>

LEES MEER

leer gevangenes om

goeie pa’s te wees

“Dit is ideaal om onderrig en leer met gemeenskapsverbintenis te kombineer, wat weer op navorsing uitloop.”

“Dis ʼn wonderwerk dat ek myself kan uitleef in my navorsing oor dít waarvan ek al jare lank praat, naamlik die dringende rol wat die pa in ʼn gesin speel.”

 

Dit is die woorde van dr Fazel Freeks, bestuurder vir gemeenskapsverbintenis en koördineerder van projekte in die Fakulteit Teologie, wat die afgelope twee jaar by ʼn vaderskapprogram (The Fatherhood Training and Equipping Programme: Daddy is home!) in die Potchefstroom Korrektiewe Dienste betrokke is.

 

“Ek het self sonder ʼn vaderfiguur grootgeword, maar die Here het iets in my verander dat ek die prentjie anders kon sien, omdat ek die nadeel daarvan self beleef het. Ek besef self deeglik waardeur iemand gaan wat sonder ʼn pa grootword. ʼn Pa het kernverantwoordelikhede, hy is ʼn beskermer en voorsiener vir sy gesin.”

 

Die direkteur van Famsa, me Marietta Oelofse, het Fazel vertel van ’n unieke geleentheid om ʼn intervensie-program by die Potchefstroom Korrektiewe Dienste aan te bied en dit het Fazel soos ʼn handskoen gepas.

 

“Deur van hierdie geleentheid gebruik te maak, kon ek my passie en my navorsing by die universiteit integreer. Dit is vir my die ideaal om onderrig en leer met gemeenskapsverbintenis te kombineer, wat weer op navorsing uitloop.”

 

Bystand ná vrylating

Nog ʼn transdissiplinêre projek van die fakulteite Teologie en Opvoedingswetenskappe is om gevangenes by te staan wanneer hulle vrygelaat word. “As voortsetting van ons werk by Korrektiewe Dienste help ons gevangenes met ʼn moontlike veilige hawe, en ʼn brood- en vaardigheidsontwikkelingsprojek, sodat hulle weer hul voete in die gemeenskap kan vind,” sê Fazel.

 

“Ek is baie opgewonde oor wat ons doen, want dit kan ʼn groot impak hê. Vir my gaan dit nie net oor die optekening van navorsing nie, maar ook oor die verandering wat dit in ʼn gemeenskap kan meebring.”

 

Stap daardie ekstra myl

Hy sê gemeenskapsverbintenis is juis om die ekstra myl te stap om die program deur te voer; dit vereis dus ʼn hegte verbintenis. “Die projek sal oor etlike jare loop.”

 

Volgens Fazel sê die gevangenes dikwels hulle het nie ʼn lewe daar buite nie en dat die gemeenskap hulle nie weer wil aanvaar of terughê nie. ʼn Gewilde sêding is juis “die plek roep my terug”.

 

“Uit ʼn teologiese oogpunt voel ek as Christen dat hulle steeds mense is, en in die oog van God bly sondaars ook mense en daarom strek Sy genade so ver.

 

“Ek wil die pad stap met dié navorsing, al is dit dan net om ʼn daadwerklike verskil aan een uit ʼn 100 lewens te kan maak – dit is die druppel in die emmer wat saak maak.”

 

Van teorie na praktyk

Fazel het al heelwat van sy navorsing gepubliseer, maar hy sê hy wil dit ook in die praktyk toepas – hy wil as’t ware die teorie in die boekrakke deur middel van gemeenskapsverbintenis na grondvlak neem.

 

“Ek verbind myself daartoe om verandering, effektiwiteit en impak in ʼn gemeenskap te weeg te bring en doen my navorsing saam met en in die gemeenskap. Ek het van kleinsaf besef en geglo ek kan ʼn verskil maak, en veral as Christen wil ek my uitleef. Hier by Teologie kan ek dit nou met oorgawe doen.”

 

Fazel het ook boeke oor die onderwerp gepubliseer, Dad be the Father God called you to be en Dad is Destiny: The man God created to be.

 

Hy het ook toekennings ontvang van Banna Ba kae, ʼn nie-regeringsorganisasie in Potchefstroom, en ook van Famsa vir sy bydraes tot dié organisasie met sy program by Korrektiewe Dienste.

 

Fazel is in Potchefstroom (Makweteng) gebore en het hier grootgeword. Hy het sy lewe lank probeer wegkom uit Potchefstroom, maar sy ouma se woorde, dat die Here ʼn doel met hom in dié stad het, het hom gekeer. “Ek kon telkens hierdie tekens op my pad raaksien,” sê hy.

 

Hy is getroud met Enanceata, ʼn onderwyseres by Promosa Primêre Skool, en hulle het drie kinders: Fagaria, Farodian en Elodian.