>

>

LEES MEER

WAAROM BORD-

SPELETJIES MEER AS BLOOT

PRET EN

PLESIER

IS

Nadat hulle hul kreatiwiteitshoede opgesit het, het die spanne tydens die werkswinkel oor tafel- en elektroniese speletjies aan konsepte vir bordspeletjies gewerk.

Om ’n struktuur met ’n malvalekker, kleefband, tou en spaghetti te bou? Maklik, sê die manne wat die malvalekker-uitdaging tydens die bordspeletjiewerkswinkel gewen het. Hulle is David Risinamhodzi, Isaac Takaidza, Lance Bunt en Japie Greeff.

Personeellede wat die werkswinkel bygewoon het, was (agter) Lance Bunt, Japie Greeff, Monique du Plessis, prof Seugnet Blignaut, Marie Preston en Veruschka Pelser-Carstens. In die middel is dr Carolina Islas Sedano, prof Dawid Jordaan, Tanja Eksteen en Liana Venter. Voor is dr Verona Leendertz, Carin Venter, Marelise van der Westhuizen en Noory Yusuf.

As jy dink bordspeletjies beteken net dat jy tyd goed bestee deur iets saam met familie en vriende te doen, moet jy maar weer dink. Bordspeletjies en die ontwikkeling daarvan speel ’n belangrike rol in hoe die nuwe geslag leerders, die sogenaamde millennium-jeug, leer en nuwe inligting en vaardighede bekom.

 

In die lig hiervan is ’n baie geslaagde werkswinkel oor tafel- en elektroniese bordspeletjies onlangs by die NWU se kampus in Vanderbijlpark gehou, met die pasgestigte navorsingsnisarea, Tegnologiebevorderende Leer en Innoverende Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika (TELIT-SA) as die gasheer.

 

Prof Seugnet Blignaut, wat die TELIT-SA-span lei, sê die werkswinkel het nie net deelnemers gemotiveer om tafelspeletjies te skep nie, maar ook om bestaande vaardighede ten opsigte van die skepping van innoverende en kreatiewe onderrig-en-leer-strategieë te versterk.

 

Nuuskierig en spelerig

Die wêreldbekende speletjiekundige en -entoesias, dr Carolina Islas Sedano van die Universiteit van Oos-Finland (UEF), was die fasiliteerder by die werkswinkel. Op haar LinkedIn-profiel beskryf Carolina haarself as ʼn nuuskierige leerder, lief vir “leer-deur-spel”, en in haar hart ’n entrepreneur.

 

Een van die aktiwiteite op die agenda was die “malvalekker-uitdaging”, wat deelnemers uitgedaag het om die hoogste vrystaande struktuur moontlik uit spaghetti, kleefband, tou en ’n enkele malvalekker te bou. Hierdie spesifieke uitdaging het daarop gefokus om vaardighede soos spanwerk, konseptuele en ruimtelike vaardighede, kreatiwiteit en innovering te ontwikkel.

 

Carolina se belangrikste navorsingsbelangstellings sluit in die innoverende gebruik van tegnologie om uitkomste of ervarings te bereik wat andersins nie moontlik sou wees nie. Sy ondersoek ook maniere om tegnologie te gebruik om betekenisvolle en lekker speel-leer-ervarings te skep, en neem die omgewing in hierdie speel-leer-toepassings in ag.

 

Die deelnemers aan die werkswinkel het gevra dat ’n opvolgwerkswinkel gehou word om die doeltreffendheid van die gebruik van bordspeletjies in onderrig en leer te ondersoek.