BEWEEG AF

R3,5 miljoen aan behoeftiges

NWU-studente skenk

>

>

R3 523 735.10. Dis ’n bedrag wat lewens verander; ’n bedrag wat ’n troostelose dag beter maak. Dit is die rekordbedrag wat tydens die NWU se jaarlikse uitbetalingsfunksie van die Studente Joolgemeenskapsdiens (SJGD) aan verskeie individue, skole, projekte en welsynsinstellings uitgedeel is.

 

Die SJGD is in 1978 gestig, en is ’n eiesoortige inisiatief – een van die grootste geregistreerde studentewelsynsorganisasies ter wêreld. Dit word bedryf deur studente van die Potchefstroomkampus wat die universiteit se omliggende gemeenskappe en diegene wat bystand nodig het, wil dien.

 

SJGD, in vennootskap met Jool, fokus spesifiek op die gemeenskappe van Ikageng en Primosa, en die verspreiding van die fondse weerspieël dit.

Hoe skole baat vind

 

Een van die grootste behoeftes van preprimêre skole is skoon en privaat badkamers, aangesien emmers soms nog as toilette gebruik word. Twee skole, Agape en Thuto Boswa, het onderskeidelik R10 000 en R7 000 ontvang om die badkamergeriewe op te gradeer.

 

ʼn Ander behoefte van skole is die herstel van speelareas. SJGD het R49 500 aan vyf skole geskenk om hiermee te help. Die skole is Tshepanang (R10 000), Lesedi La Thuto (R10 000), Dan Thloome (R16 000), Reagola (R3 500) en PNBC (R10 000).

 

Tshupane Laerskool het R40 000 ontvang om ’n kombuis te bou wat daagliks kos aan 1 200 kinders sal verskaf. ’n Spesiale betaling van R50 000 is aan Jane Letsapa gemaak om ’n kombuis en ’n siekeboeg te bou. Dié skool is in die Essie-distrik, ongeveer 35 km vanaf Potchefstroom, geleë.

 

Twee laerskole, President Pretorius en Promosa, het onderskeidelik R5 000 en R4 076 ontvang om sporttoerusting aan te koop, terwyl die Bafenyi Trust R55 000 ontvang het om ’n klaskamer vir die opleiding van onderwysers vir vroeë kinderontwikkeling te bou.

 

Fondse is ook toegeken om infrastruktuur te herstel: Witrand Hospitaal het R10 000 ontvang, die Promosa 1-projek R3 200 en Droomhuis R10 000.

 

Maak ʼn verskil

 

Ander SJGD-begunstigdes sluit in Kinderwelsyn (R20 000), Families South Africa (FAMSA, R20 000), Free State Care in Action: Vredefort (R10 000) en Nappy Run South Africa (R5 000).

 

Die iDUC-projek, ’n multivlak-inisiatief wat op werkskepping, gemeenskapsopheffing en die ondersteuning van verkragtingslagoffers fokus, het R35 000 ontvang. Dié projek identifiseer werklose vroue in minderbevoorregte gemeenskappe aan die hand van veral hul handwerk- en naaldwerkvaardighede. Hierdie vroue word dan in diens geneem en betaal om opgestopte diertjies en mantels met kappies te maak.

 

Die Pedal for Poverty-projek en die Musikhane-projek het onderskeidelik R15 000 en R45 000 ontvang. ’n Bedrag van R1 481 000 is aan behoeftige studente betaal om met registrasiegelde, uitstaande skuld en beurse te help.

 

Dit is maar ’n paar van die talle projekte en inisiatiewe waartoe SJGD-fondse bygedra het. Regdeur die jaar is daar ook talle insamelingsgeleenthede vir kos, klere en soveel meer.

BEWEEG AF

 

ʼn Groot dankie

“Ek wil die Jool- en SJGD-spanne vir al hul harde werk bedank,” sê Janine Möller, SJGD-voorsitter. “Dit is ’n voorreg om met elkeen van julle saam te werk – julle harde werk verryk die lewens van oud en jonk. Dit is ook uiters belangrik om ons gemeenskap te bedank. Sonder hulle skenkings, hulp en opregtheid sal ons nie ons doelwitte kan bereik nie.

 

“Elke jaar kry ons dit reg om te verbeter op die fondse wat ons insamel en uitdeel, en danksy die vrygewigheid van die gemeenskap weet ons ons kan voortgaan om dit te doen.”