Ons is driedubbele kampioene

Die NWU het die eerste universiteit ooit geword wat die Varsity Beker se krieket-, rugby- en netbalkampioene is.

>

>

Onder die spreiligte staan die tyd stil. Adrenalienvlakke skiet die hoogte in, die skare juig, en die kolwer se hart klop in sy ore.

 

Dit was die toneel op die aand van 4 Februarie op Senwespark in Potchefstroom waar die NWU se krieketspan die Universiteit van Pretoria (UP-Tuks) geklop het en so die eerste universiteit ooit geword het wat gelyktydig die Varsity Beker se krieket-, rugby- en netbalkampioene is.

 

Die NWU se driekuns het op 11 April 2016 begin met spanning soos dié wat eie is aan ʼn Alfred Hitchcock-film wat tydens die Varsity Beker se rugbyfinaal geheers het.

 

In die wedstryd teen Stellenbosch Universiteit (Maties) in Stellenbosch, met ʼn 6-0 agterstand en met die tyd basies verstreke, het die NWU op Maties se doellyn uitgekamp vir wat soos ʼn ewigheid gevoel het. Strafskop na strafskop is afgestaan, daar moes oor en oor geskrum word en NWU-ondersteuners het gesmeek vir ʼn strafdrie.

 

Die deurbraak het uiteindelik gekom na bykans agt minute ekstra tyd toe Marno Redelinghuys oorgebars het vir die wendrie wat deur Ryno Smith verdoel is.

 

Verdedig hul kroon

 

Die NWU se volgende tree op pad na ʼn driekuns was toe die netbalspan hul Varsity Beker-kroon op 17 Oktober 2016 suksesvol verdedig het en UP-Tuks met 56-55 in ’n absolute riller van ʼn wedstryd in Pretoria verslaan het.

 

Om hierdie drie eindstryde in ʼn weergalose driekuns van briljantheid te wen, en saam met die Varsity Beker vir atletiek wat hulle in 2015 met UP-Tuks gedeel het, maak dit die NWU een van Varsity Sport se mees gerespekteerde mededingers.

 

Toewyding is die geheim

 

James Stoffberg, die direkteur vir sport op die Potchefstroomkampus, sê hy is baie trots op al die spanne en hul voortgesette uitnemendheid.

 

“Dit spreek ook van die toewyding van ons spanne en hul bereidwilligheid om sukses te behaal. Ek wil spesiaal melding maak van ons hoofafrigters Conrad de Swardt (krieket), Dorette Badenhorst (netbal) en Jonathan Makoena (rugby). Deur hul mentorskap en kundigheid verseker hulle dat die NWU kan voortbou op sy suksesse,” sê hy.

 

BEWEEG AF