>

BEWEEG AF

PROF MARTIN OOSTHUIZEN
PROF MARTIN OOSTHUIZEN
Prof Martin Oosthuizen, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, sê studente behoort op die voorpunt te wees van alles wat in onderrig en leer gedoen word. “Studente moet geleer word om in ’n multikulturele samelewing te leef en te werk. Hulle moet diversiteit aangryp en dit as ’n bate sien, en nie as ’n bedreiging nie.” Hy glo dat die universiteite wat in die toekoms sal vooruitgaan net dié sal wees wat ’n uitnemende onderrig-en-leeromgewing bied.

Die NWU sê totsiens aan ons adjunkvisekanselier vir onderrig en leer. Prof Martin Oosthuizen het ’n blywende impak gemaak wat sal verseker dat die universiteit baie jare lank goedafgeronde graduandi sal oplewer. Hy dink na oor sy tyd by die NWU en die talle hoogtepunte en uitdagings wat hy teëgekom het.

 

Hoewel hy opgewonde was, was Martin aanvanklik oorweldig deur die reusetaak wat voor hom gelê het toe hy in Junie 2011 by die NWU aangesluit het. “Dit was ’n baie komplekse omgewing met drie unieke kampusse, elkeen met sy eie geskiedenis en akademiese profiel ten opsigte van personeel en studente en geografiese ligging. Ek het dadelik gesien die universiteit het die potensiaal om ’n belangrike rol in die lewensgehalte en ontwikkelingsbehoeftes van nie net die Noordwes-provinsie nie, maar ook Suid-Gauteng, te speel.”

 

Sy 21 jaar ervaring in institusionele beplanning, gehaltebestuur en teologie aan die voormalige Universiteit van Port Elizabeth en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit het hom in staat gestel om beheer te neem en die NWU se onderrig en leer na ’n vlak van uitnemendheid te transformeer wat die NWU aan die bopunt van onderrig en leer in die hoëronderwyssektor geplaas het.

 

Spring weg vanuit die warm water

 

Hy het homself in die warm water bevind toe hy by die NWU begin het. “Ons het ses maande gehad om die formele proses van die belyning van al die universiteit se akademiese kwalifikasies en programme met die regulatoriese vereistes van die Hoëronderwys-kwalifikasieraamwerk af te handel. Ek was geskok toe ek besef het daar is tot op daardie stadium baie min gedoen om die proses aan die gang te kry.”

 

Martin sê dit was ’n uitdagende tyd wat aan hom bewys het tot watter uitstekende werk die personeel van die NWU in staat is. “Ek was geseënd met ’n baie toegewyde span by die projekkantoor en by Akademiese Steundienste. Dit, saam met die uitstekende samewerking van die fakulteite en baie harde werk, het verseker dat ons die sperdatum kon haal.”

 

Van uitdagings na uitnemendheid

 

Gedurende die eerste twee jaar van die bestuur van die NWU se onderrig-en-leer-portefeulje het Martin op die prosesse rondom stelsels, kwalifikasies en die goedkeuring van akademiese programme gefokus. “Ons het baie gehad om te doen om duidelike en funksionele kommunikasiekanale te verseker om die gehalte van ons aansoeke te verbeter wanneer ons om akkreditasie aansoek doen.”

 

Hy was deeglik bewus hoe belangrik dit was om stelsels te ontwikkel om die onderrig-en-leer-portefeulje te bestuur. “In onderrig en leer moet jy goeie rekords en inligting oor al die programme en kwalifikasies hê. Dit is noodsaaklik dat dit alles deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding en die Raad op Hoër Onderwys goedgekeur word. ’n Goeie stelsel is ook die platform vanwaar jy vir die toekoms beplan en nuwe geleenthede identifiseer.”

 

Hy sê een van die hoogtepunte was die aanstelling in 2013 van Christa North as uitvoerende adviseur vir die beplanning van spesiale projekte. “Onder haar leiding kon ons ’n elektroniese stelsel vir die goedkeuring van programme skep en al die toepaslike inligting bestuur wat met ons program- en kwalifikasiemengsel verband hou en waarmee ons data akkuraat kon saamstel.” Hy sê hierdie waardevolle instrument het die NWU na die voorpunt van die sektor geneem en hulle gehelp om al die gapings te hanteer wat aan die begin daar was.

 

Dis totsiens, nie vaarwel nie

 

Martin sê dis totsiens, maar nie vaarwel nie. Hy wil graag op ’n deeltydse basis by onderrig en leer by die NWU betrokke bly. Hy wil ook graag by nasionale kwaliteitsversekeringsprojekte betrokke raak.

 

Hy sal by sy familie in Somerset-Wes in die Wes-Kaap aansluit. “Ek sien daarna uit om saam met hulle te wees.”

 

’n Mens sou dink Martin sal ná die veeleisende uitdagings wat onderrig en leer gestel het, ’n rustige aftrede kies, maar hy sê hy wil ook sy avontuurlustige kant ondersoek. Hy hoop om per fiets van Kaapstad na Kaïro te ry, en om ook na vele bestemmings te reis, insluitende St Petersburg in Rusland en na die Skandinawiese lande om die noorderligte te sien.

 

BEWEEG OOR FOTO

LEES MEER

>