>

>

>

>

TERUG

BEWEEG AF

Akademikus lei komitee oor verkeerswetstoepassing

Die Minister van Vervoer, me Dipuo Peters, het vir dr Kesolefetse Olivia Lefenya, ’n senior lektor in publiekreg aan die Mafikengkampus, as voorsitter van die Nasionale Verkeerswetstoepassing se hersieningskomitee aangestel.

 

Kesolefetse het in 2005 as lektor by die Fakulteit Regte aan die NWU aangesluit en sal nou 18 maande lank as voorsitter van die komitee dien, waarna die komitee ’n verslag aan die minister, die kabinet en die parlement sal voorlê.

Skouer aan die wiel

 

Die mandaat van die komitee sal wees om die gemeenskap van verkeerswetstoepassers te evalueer en areas vir hersiening te identifiseer, konstitusionele en wetlike bepalings wat met wetstoepassing verband hou, te oorweeg, en om na die opleidingsraamwerk te kyk. Hulle moet ook toepaslike kwalifikasies vir verkeerswetstoepassers vasstel.

 

Verder is die komitee se taak om ’n model vir ’n professionele liggaam, vereniging of raad vir verkeerswetstoepassers te ontwikkel, soortgelyk aan die regsgemeenskap se Wetsgenootskap. Gedurende hierdie proses sal die komitee ’n vergelykende studie doen asook met ander lande skakel om ’n maatstaf te kry om te sien watter lesse Suid-Afrika op die gebied van verkeerswetstoepassing kan leer.

 

Wiele op die teer

 

“Die proses sal nege provinsiale besoeke insluit waar ons met belanghebbers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens, metropolisie-agentskappe, die Padongelukfonds, motor-, vragmotor-, taxi- en busverenigings, asook met lede van die publiek sal vergader. Hierdie vergaderings sal deel vorm van ’n gestruktureerde openbaredeelnameproses waartydens die komitee vir kommentaar sal vra oor hoe om verkeerswetstoepassing te verbeter", sê Kesolefetse, wat ook ’n advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika is.

 

Ander lede van die komitee is mnr Mbuyisiwe Malaza, voorsitter van die instituut vir verkeers- en munisipale beamptes van Suider-Afrika, mnr Benjamin van Rooyen, hoof van die Lyceum Korrespondensiekollege van Hoër Onderwys, mnr Isaac Sipho Dlepu, bedryfsdirekteur by die Johannesburgse Metrodepartment, mnr Hlulu Msimang, hoof van openbare veiligheid, Johannesburg, me Dorcas Khosa Shikwambana, ’n dosent by die Departement van Veiligheid en Sekuriteit by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, dr Maria Peenze, wat haar eie konsultasiebesigheid bedryf, en mnr Oupa Sebiloane, ’n ervare vakbondman.