Ondersoek mens se impak op aarde

 

In sy projekvoorstel het Louis gewys dat internasionale omgewingsreg, met multilaterale omgewingsooreenkomste as hoofkomponent, nog nie in staat is om die onderliggende oorsake wat vir die sosio-ekologiese krisis van die Antroposeen-tydperk verantwoordelik is, te hanteer nie.

 

Die Antroposeentydperk is ʼn voorgestelde geologiese tydperk, of epog, wat begin het sedert die mens ʼn noemenswaardige impak op die aarde en sy verskeie natuurlike stelsels begin maak het.

 

“Ons betree ʼn nuwe geologiese epog en ek hoop hierdie studie kan vir ons ʼn nuttige lens gee waardeur die mens se impak op die aarde ondersoek kan word. Hopelik sal ons daardeur meer geskikte juridiese metodes kan ontwikkel om die Antroposeen se sosio-ekologiese krisis aan te spreek,” verduidelik die 40-jarige boorling van Johannesburg.

 

Volgens die Europese Kommissie se evaluering van Louis se aansoek lê sy projek se wetenskaplike belang binne sy oorspronklike bydrae as die eerste multidissiplinêre studie om internasionale omgewingsreg deur die lens van die Antroposeen en sy geassosieerde konstrukte te beskou.

 

Dis nogal oorweldigend

 

“Dit is baie opwindend, maar ook ʼn bietjie oorweldigend. Al die logistieke reëlings en die vooruitsig van die ongure weer is wel nie té lekker nie! Ek gaan ons sonnige land en sy hartlike mense baie mis,” sê hy.

 

Geleenthede en ʼn moeilike “totsiens” is sy voorland. “My familie is opgewonde, hoewel my ma minder as ek. Sy sê al klaar hoe baie sy gaan verlang. My pa was nog nie in Europa nie, so dit is nou die ideale geleentheid vir hom om dit te sien.”

 

Daar is wel ʼn bykomende silwer randjie. Louis se lewensmaat, prof Klaus Zweckberger, werk as ʼn neurochirurg in Heidelberg, Duitsland. “Hopelik gaan ek hom nou meer kan sien.”

 

NWU baat ook

 

“Dit is my grootste en langste navorsingstoekenning nog en ek weet dis ʼn uitstekende geleentheid om goeie navorsing tot voordeel van die NWU te doen. Hopelik kan daar ook ʼn monograaf hieruit voortspruit.”

 

Hy beplan ook geensins om sonder ʼn paar kontakte huis toe te keer nie. “Een van my ander doelwitte is om die NWU se internasionalisering uit te brei en ʼn globale netwerk terug te bring Afrika toe,” sê die man wat met twee doktorsgrade sowel as ʼn P-gradering van die Nasionale Navorsingstigting spog.

 

Ja, hy gaan die son mis; sy vriende ook. Wat hy egter nie gaan mis nie, is die afleiding wat daaglikse take in sy huidige posisie veroorsaak. “Ek is tans ʼn navorsingsprofessor wat beteken ek kan nie te veel kla oor admin nie, maar ek sien steeds daarna uit om selfs nog meer tyd vir suiwer navorsing te hê. Dit gaan ook lekker wees om net op een projek te konsentreer. Dit gaan oor kwaliteit en nie kwantiteit nie.”

“Ek voel soos die foksterriër wat die bus gevang het.”

 

Ja, dit sink nog nie in nie, want hierdie reis wat prof Louis Kotzé gaan onderneem, is nie sommer op enige “bus” nie.

In Januarie het Louis, ’n navorsingsprofessor in die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus waar hy op omgewingsreg fokus, die nuus ontvang dat sy aansoek om die gesogte Europese Kommissie Horison 2020 Marie Curie-befondsing suksesvol was. Die totale bedrag van die toekenning beloop €180 000 oor ʼn tydperk van twee jaar.

 

Sy navorsingsperiode begin in Oktober vanjaar wanneer hy na die Universiteit van Lincoln vertrek waar hy saam met Duncan French, die bekende hoof van die Lincoln Universiteit se Skool vir Regte, gaan werk.

 

Lincoln is ʼn klein, dog pragtige katedraaldorp in die oostelike middelande van Brittanje. Die dorp is veral bekend vir die feit dat hy een van die laaste oorblywende kopieë van die Magna Carta huisves. Dié 1215-dokument gaan oor die fundamentele waarborg van regte en voorregte.

 

Daarna is dit ses maande by die Universiteit van Utrecht in Nederland saam met Frank Biermann, die wêreldleier op die gebied van aardsisteemregulering, voor hy terugkeer na Lincoln vir die oorblywende tyd.

Europese eer vir Louis Kotzé

BEWEEG AF

BEWEEG OOR FOTO

>

>