Hul ouers, Billy en Dinah, was hul grootste ondersteuners en dit het hulle aangemoedig om aan te hou om as groep op te tree. Sedert die begin van hul musikale bediening met RAL het die groep van krag tot krag gegaan met optredes by Aardklop en op Radio Kansel. Hulle musiek neem hulle regoor Suid-Afrika, van Bonteheuwel in die Kaap, Eldorado Park en Fochville in Gauteng, tot Welkom in die Vrystaat.

 

Unieke klank in 'n bekende tradisie

 

Roslyn beskryf hulle musiek as hedendaagse gospel, maar hulle fokus ook op Afrikaanse gospelmusiek. “Ons grootste inspirasie is die bekende Amerikaanse gospel-groep, die Clark Sisters. Hulle is ons heldinne.” Hoewel hulle in hul sang dieselfde tradisie en harmonie as die Clark Sisters volg, is RAL se klank eiesoortig.

 

“Dit beteken vir my baie om saam met my susters in 'n groep te wees. Ek glo dat God ons gebruik en dat ons deur ons liedjies die boodskap uitdra dat Hy gebede verhoor,” sê Roslyn.

 

Een van hul grootste hoogtepunte tot dusver was toe hulle in Augustus vir die Suid-Afrikaanse sangeres, Mahalia Buchanan van die Joyous Celebration-koor, geopen het. “Na daardie optrede was daar geen twyfel dat dit ons roeping is om God deur musiek te dien en die lewens van ander met ons sang aan te raak nie,” sê Roslyn. Nog 'n pluimpie was toe RAL gekies is om by die Amerikaanse prediker en kunstenaar Hezekiah Walker se koor aan te sluit.

 

Planne om vir 'n wyer gehoor op te neem

 

Die drie susters het nou hul oë op 'n CD-vrystelling vir volgende jaar en, kort daarna, 'n DVD.

 

Loretta is die liedjieskrywer en het al meer as 30 liedjies bymekaar wat sal verseker dat die beplande vrystellings met oorspronklike inhoud kan spog. “Ons het ook al uitstekende musikante in ons bediening ontmoet en ons glo dat God dit vir ons moontlik sal maak om hierdie droom te verwesenlik.”

 

Musiek 'n instrument van seën

 

“Musiek is bevrydend en dit kan help om gebroke lewens gesond te maak en om rigting en sin te gee. As ek dít vir 'n lewe kon doen, het ek,” sê Alta.

 

Vir Roslyn is die grootste beloning wanneer mense deur hulle sang geraak word. “Mense sê dikwels dat hulle vier stemme in plaas van drie hoor wanneer ons sing. Ons glo dat dit 'n teken is dat die Heilige Gees ons optredes seën en daarvoor prys ons God.”

 

* As jy weet van 'n kollega wat iets besonders of interessants in sy of haar lewe buite die universiteit doen, stuur gerus die inligting aan Willie du Plessis by willie.duplessis@nwu.ac.za.

Twee van die drie susters, Alta Fourie (links) en Roslyn Lodewyk, is personeellede van die NWU.

BEWEEG AF

LEES MEER

>

>