Hierdie personeellede maak 'n verskil
Die NWU het toegewyde personeel wat gereeld die tweede myl loop. In hierdie artikel in ons tweedemyl-reeks gee ons erkenning aan die kollegas wat 'n verskil in ander mense se lewens maak deur meer te doen as wat van hulle verwag word.
Angie Danster
Claudie Kroese, bestuurder van die Engenius-beursprogram by die Fakulteit Ingenieurswese op die Potchefstroomkampus, sê Angie Danster doen geweldig baie moeite om alle voornemende studente en hul ouers wat een van die drie jaarlikse ingenieursskole wil bywoon, te akkommodeer.
“Sy hanteer almal met respek en baie van die ouers beskou haar as 'n vriendin. Sy is 'n groot aanwins vir die fakulteit. Dit is wonderlik om te weet dat sy so 'n pragtige en positiewe beeld uitdra aan almal wat met die fakulteit kontak maak.”
Marietjie Lombard
Die Middelbestuursprogram-vakgroep (2015) by die Skool vir Ondernemingsbestuur op die Potchefstroomkampus sê Marietjie Lombard, administratiewe beampte, lewer uitstekende diens en stap gereeld die tweede myl om te help. Marietjie se vriendelikheid en gewilligheid om te help is prysenswaardig. “Haar administratiewe stelsel is volledig en op datum, en sy kan onmiddellik haar hand op enige inligting lê wat ons nodig het.”
Marietjie se deur is altyd oop en sy gaan uit haar pad uit om inligting vinnig op te spoor as sy dit nie self het nie.
Boitumelo Molato
Boitumelo Molato, dosent, is in beheer van die logistiek by die Skool vir Verpleegkunde aan die Mafikengkampus – en hy het die uitdaging met geesdrif aangepak. Dr Kgomotso Direko, mededosent, sê die skool moet baie aangeleenthede wat betref kliniese leer in programmodules hanteer, en Boitumelo doen dit flink en vinnig. “Hy het vorms en prosesse herontwerp om alles wat met toerusting, onderrig en assesserings te doen het, beter te organiseer en koördineer. Hy is ook betrokke by die toewysing van studente op verskillende vlakke aan verskeie kliniese fasiliteite.” Indien van die fasiliteite buite die distrik val, tref Boitumelo baie noukeurige reisreëlings en hou versigtig rekord van alles.
Elza Moorcroft
Sonika du Plessis, senior administratiewe beampte by Fisiese Infrastruktuur en Beplanning by die Institusionele Kantoor, sê Elza Moorcroft, projekadministrateur, is 'n skitterende voorbeeld van iemand wat die tweede myl stap.
“Sy doen gereeld meer as wat van haar verwag word. Dit maak nie saak wat die aard van die probleem is nie; sy probeer aktief om enige haakplekke wat voorkom, uit te stryk.”
Katlego Dutoitspan
Liana Venter, departementshoof en senior onderrigontwerper by d-Media, nomineer Katlego Dutoitspan. “Hy is 'n verkeersbeheerbeampte by die E11-parkeerarea op die Potchefstroomkampus en is altyd vriendelik en bereid om te help.” Sy sê Katlego se vriendelikheid is 'n wonderlike eienskap. “Hy wys ons altyd waar daar oop parkering is, en keer as mense wederregtelik op bespreekte parkeerplekke wil stop. Hy is altyd aan diens – van vroeg tot laat – en loop verseker daardie tweede myl.”
Lizelle Staats
Lizelle Staats, senior administratiewe assistent by die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus, is altyd gewillig om te help en ondersteuning te bied wanneer mense met tegnologieverwante probleme sukkel.
Saritha Marais, persoonlike assistent van die dekaan van die Regsfakulteit, sê Lizelle se kennis oor inligtingstegnologie maak van haar 'n absolute steunpilaar by die fakulteit. “Sy deel graag haar kennis en help waar sy kan.”
Indien u 'n kollega wil nomineer wat nooit skroom om ekstra moeite te doen nie, stuur asb 'n e-pos aan willie.duplessis@nwu.ac.za. Onthou om jou postitel en die naam van jou departement of skool, sowel as dié van die genomineerde, by die e-pos in te sluit. Gee ook redes waarom jy dink die persoon die tweede myl loop.