X

Redaksioneel

 

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za, faks dit na 086 614 3222 of pos dit aan Nelia Engelbrecht, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit, Privaat Sak X1290, Potchefstroom, 2520.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

 

Dit kom van ver af

Wat ’n hoendervleis-ervaring

 

 

'n Unieke 'tradisie' kan mense verenig

 

Aanvanklik ’n vreemde, maar later een van die beste tradisies wat ek op die PUK* ervaar het, was om te groet.

 

Ek was ’n eerstejaar in Veritas in 1983 en dit was die plig van ons gang-senior om vir ons die reëls van die gang en die koshuis te leer. Een daarvan was om te groet – en nie eenmaal per dag soos ons grootgeword het nie – nee, elke keer as jy by die persoon in die gang verbystap, groet jy.

 

Om as jong student op die vreemde kampus te loop om een of ander administratiewe taak te gaan afhandel was intimiderend, omrede mens nie geweet het watter berugte senior jy dalk kon raakloop nie. Maar wanneer 'n (vreemde) senior student of dosent van voor af kom en met goeie oogkontak en warmte jou vriendelik groet... dit voel soooo goed – asof jy by jou huis is.

 

“Om iemand te groet, kommunikeer baie positiewe boodskappe - oor vele kulture heen, glo ek.”Dit sê ek sien jou, ek ag jou, jy is belangrik, jy is welkom, jy is een van ons, ek maak plek vir jou, ons sien om na jou.

 

Die kampus laat my voel asof ek by die huis is – veilig en welkom. Na 33 jaar sien ek steeds van hierdie tradisie op ons kampus. Ek ontvang steeds warm groete van senior dosente/professore, al is ek onbekend. Ons studente loop steeds met trots en met glinsterende oë op die kampus rond – iets wat ek min op ander kampusse sien.

 

Wanneer ek ander kampusse besoek ervaar ek 'n soort kil, onpersoonlike, metropolitaanse gevoel. Studente lyk soos robotte, soos enkelinge op die aarde. Elke alumnus voel seker maar meer tuis op sy eie kampus, maar tog...

 

Ons kan hierdie tradisie steeds versterk en dit veral inskerp by ons eerstejaars en betoon aan enigiemand vreemds wat ons op die kampus raakloop.

 

Hierdie tradisie van liefde is ons wapen teen vyandigheid en sal vreemdelinge welkom laat voel, in plaas van gemarginaliseerd. Ons kampus is in baie opsigte uniek – hier voel ek deel van 'n familie en dit is ons sterk punt – ons is 'n familie van alle kulture en een in menswees en akademie!

 

Groete,

Louis le Grange

 

* Die PUK is die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en vandag die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

 

(Brief effens verkort.)

 

Louis bly reeds sedert 1990 in Potchefstroom en was van 1990 tot 1995 ’n dosent by Meganiese Ingenieurswese aan die voormalige PU vir CHO. Hy het twee seuns wat ook aan die NWU verbonde is, en is self tans ’n voltydse PhD-student.

 

 

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

NWU & U  |

inhoud

inhoud

NWU & U