X

Redaksioneel

 

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za, faks dit na 086 614 3222 of pos dit aan Nelia Engelbrecht, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit, Privaat Sak X1290, Potchefstroom, 2520.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

 

Dit kom van ver af

’n Unieke “tradisie” kan mense verenig

Aan almal by die alumni-kantoor,

Hoe wonderlik dat ek aan julle kan skryf om te vertel van die baie besonderse ervaring van Dinsdag 8 Maart.

Dit was die dag waarop ons kleindogter Elizabeth Hoffman, dogter van prof Alwyn Hoffman, die graad Honneurs Baccalaureus in Aktuariële Wetenskappe ontvang het.

 

Maar hierdie brief gaan nie net oor ons kleindogter nie, dit gaan oor ons bewondering en waardering vir die hoendervleis-ervaring om deel te kon wees van so ’n suiwer, akademiese, deftige en amper heilige geleentheid. Ek kan dit met groot vrymoedigheid sê, aangesien ons by ander universiteite se gradeplegtighede teenwoordig was, wat nie daardie styl en finesse gehad het nie.

 

Nou kom ek by die belangrikste deel van my brief. Dit gaan oor prof Fika Janse van Rensburg. So ’n eg menslike maar tog ook ’n hoog akademiese hantering van ’n gradeplegtigheid het ek nog nooit ervaar nie. Prof Fika het ons almal se aandag stewig gehou tydens die hele seremonie.

 

Prof Fika Janse van Rensburg

Hy het ook ons harte aangeraak soos net hy dit kon doen. So diep het hy een swart dametjie geraak dat sy nie anders kon as om hom om die nek vas te hou nie. Op daardie oomblik het haar emosie die oorhand gekry en sy het die vrymoedigheid gehad om dit vir hom wys! Hoe wonderlik was dit!

 

Maar nog wonderliker was dit toe ons gerespekteerde rektor, prof Fika, opgestaan het, en bly staan het tot sy van die verhoog af gestap het. Dit was knop-in-die-keel-mooi. Wat ’n groot gees is prof Fika tog!

 

Dra asseblief hierdie brief aan prof Fika oor, dat hy verseker kan wees van ons waardering. En dankie ook aan almal wat in my studentejare gehelp het om my voor te berei vir ’n goeie onderwysloopbaan van baie jare – soveel so dat ek op my ouderdom nog elke dag ’n paar musiekleerlinge van die skool hier langsaan kan inlei in die wonderwêreld van musiek.

 

Groete en mag julle altyd DIE universiteit wees ten spyte van al die pogings om julle ondertoe te druk.

 

Helena Gildenhuys

Pretoria

 

 

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

NWU & U  |

inhoud

inhoud

NWU & U