>

LEES MEER

>

’n Bekende Suid-Afrikaanse higiëne-handelsmerk, Dettol, het onlangs ’n studie oor persoonlike higiëne gedoen – met skokkende resultate.

DIE GROOT IMPAK

van ’n klein koekie

SEEP

Die groep studente deel koekies seep aan al die inwoners van die Polokong Kinderdorp uit en demonstreer eerstehands hoe ’n mens jou hande behoorlik moet was.

 

Deur mense se gedrag in openbare kleedkamers regoor Suid-Afrika waar te neem, het hulle bevind dat gemiddeld net vier uit elke 10 mense hulle hande was. En van hulle het slegs 65% seep gebruik.

In die hoop om mense te help om ’n skoon blaadjie om te slaan, het studente die Polokong Kinderdorp besoek, waar hulle vir die kinders geleer het hoe belangrik dit is om jou hande te was.

 

Die honneursstudente van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur op die kampus in Vanderbijlpark het dit as ’n projek in maatskaplike verandering geïnisieer.

 

Deur koekies seep by studente en personeel op die kampus in te samel, het hulle nie net ’n impak op die gemeenskap gemaak nie, maar ook personeellede aktief betrokke gekry. Trouens, wat as ’n werkopdrag vir die LARM 612-module begin het, het gou ’n kampusprojek geword, met tallose geleenthede vir toekomstige ondersteuning.

 

Werklike verandering

 

Thapelo Chaacha, ’n LARM 612-dosent, sê die doel van die werksopdrag was om die teorie vir maatskaplike verandering prakties te demonstreer. Studente moes ’n behoefte in die gemeenskap identifiseer en maniere vind om dit te hanteer en ’n waarneembare verskil te maak.

 

“Wat hierdie werkopdrag so noemenswaardig maak, is dat dit studente aan werklike omstandighede blootstel en uiteindelik die belangrikheid van hul kwalifikasie illustreer,” sê Thapelo, en voeg by dat een van die studente reeds as gevolg van die praktiese veldwerk ’n voltydse pos gekry het.

 

Die studente het ook probeer om kundige hulp te betrek. “Met so baie sosio-ekonomiese uitdagings in die samelewing, wou die studente ’n impak maak en het na verskeie personeellede uitgereik as ’n manier om ’n klankbord vir hulle idees te wees,” verduidelik hy.

 

Hulle het die aandag van verskeie departemente op die kampus getrek: Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking, Inwoning en Voedseldienste, die biblioteek, Studentevoorligting en -ontwikkeling en verskeie akademiese skole binne die Fakulteit Geesteswetenskappe.

 

Die idee was om so veel as moontlik koekies seep in te samel. Personeellede en studente het hulle kant gebring en ruimskoots bygedra. Donasiepunte is regoor die kampus opgerig en plakkate, pamflette en selfs ’n kennisgewing op die groot LED-skerm teen een van die geboue het gevolg.

 

’n Hartlike verwelkoming

 

Teen 18 Mei was al die donasies ingesamel en die studente het na die kinderdorp vertrek. Hulle missie vir die dag? Om vir die kinders van persoonlike higiëne te leer, en veral hoe noodsaaklik dit is om jou hande te was.

 

Die groep honneursstudente – Simon Smit, Judele Senekal, Vusimuzi Clifford, Dumisani Nhlapo en Mfans Kolo – het beurte gemaak om die kinders se hande te was en op daardie manier met elkeen individueel kontak gemaak en vir hulle die korrekte manier van was gedemonstreer.

 

Dumisani sê die werksopdrag en daaropvolgende projek in maatskaplike verandering het hom bewus gemaak van die geweldige waarde wat daarin lê om ’n verskil te maak. “Daardie kleintjies was só gretig om te leer… In ’n wêreld waar ons deurlopend groter en beter dinge najaag, laat dit ’n mens so nederig voel om die dankbaarheid te sien wat iets so onbeduidend soos ’n koekie seep kan ontlok.” Hierdie groep ambisieuse arbeidsverhoudinge- en mensehulpbronpraktisyns stem almal saam: as ’n projek in maatskaplike verandering jou nie op ’n persoonlike vlak raak nie, doen jy dit verkeerd!

 

Die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur wil graag elke lid van die kampusgemeenskap bedank wat tot die sukses van die projek bygedra het.