>

LEES MEER

>

’n Belegging in die vroeë ontwikkeling van ons kinders is ’n belegging in die toekoms van ons land. Net so belangrik is die belegging wat ons maak in die onderrig van diegene wat vir die ontwikkeling van hierdie kinders verantwoordelik is.

Voed jong breine om ’n goeie toekoms te verseker

Tydens ’n werkswinkel in Potchefstroom het hierdie 20 kundiges van nege verskillende hoëronderwysinstellings ’n nasionale programraamwerk vir ’n nuwe diploma en BEd-graad, albei in die versorging en opvoeding in die vroeë kinderjare, ontwikkel.

 

NWU-personeellede is Mumsy Boikanyo in die voorste ry (reg in die middel), met dr Inge Venter en Benita Taylor direk agter haar in die middelste ry. Heel regs in die voorste ry is dr Jackie Slabbert-Redpath, met Susan Greyling agter haar in die middelste ry.

Met hierdie besef het die NWU nie geskroom om sy kundigheid in vroeë kinderontwikkeling tot voordeel van die breër hoëronderwyssektor aan te wend nie.

 

Die universiteit het na ander in die veld uitgereik deur ’n ontwikkelingswerkswinkel as ’n drie dag lange program in Potchefstroom aan te bied om te help om twee nuwe, nasionaal-belynde programme vir versorging en opvoeding in die vroeë kinderjare (vir kinders vanaf geboorte tot op die ouderdom van vier jaar) te help ontwikkel.

 

Twee (of baie) koppe is beter as een

 

Afgevaardigdes van verskillende hoëronderwysinstellings het van 7 tot 9 Maart 2018 koppe bymekaargesit om ’n nasionale programraamwerk vir ’n nuwe diploma en BEd-graad, albei in versorging en opvoeding in die vroeë kinderjare, te ontwikkel.

 

Die hoëronderwysinstellings wat by die werkswinkel verteenwoordig is, is die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Unisa, Wits, die Nelson Mandela en Walter Sisulu Universiteite, en die Universiteite van KwaZulu-Natal, Pretoria, die Vrystaat en Fort Hare.

 

Die werkswinkel is op die versoek van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding georganiseer nadat die Europese Unie befondsing aan die departement toegewys het om kwalifikasies vir onderwyseropleiding op die gebied van vroeë kinderontwikkeling te ontwikkel.

 

Skouer aan die wiel

 

Die aanbieders van die werkswinkel was Susan Greyling, Benita Taylor en Mumsy Boikanyo van die Fakulteit Opvoedkunde se Skool vir Tale in Onderwys.

 

Jackie Slabbert-Redpath van die NWU se Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) het die sessies gefasiliteer.

 

Sy het die afgevaardigdes geadviseer oor die vlakke van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk, die taksonomie (klassifikasie) oor kognitiewe kompleksiteit (die kompleksiteit van die denkprosesse), en die vlakke van kennis en vaardighede wat van studente in elke studiejaar verwag word.

 

Dr Inge Venter, ook van die SOL, het haar kennis gedeel oor die module-uitkomste en die skryf van assesseringskriteria wat vir elke uitkoms van toepassing is.