>

LEES MEER

>

Studente kan by die sportkroeg na nasionale en internasionale sportgeleenthede kyk.

klink ’n glasie

op ’n lewendige studentelewe!

Student Sports Pub:

Stel jou voor: Dis die Varsitybeker-eindstryd en ons ouens gee alles wat hulle kan teen ’n vasberade Tuks-span. Daar is agt minute oor op die horlosie en die NWU is met drie punte voor.

 

Die atmosfeer is gelaai, en elke student spring gelyktydig op wanneer die pers nommer 10 verby twee verdedigers nael om oor die doellyn te vlieg en die oorwinning beklink.  Die vertrek ontplof met krete en vreugde: N...W...U! N…W…U!

 

Dit is met oomblikke soos hierdie in gedagte dat die bestuur van die kampus in Vanderbijlpark onlangs die deure van die kampus se eie sportkroeg geopen het.

 

Volgens die kampus se sportbestuurder, Sean McCallaghan, is die Student Sports Pub, soos dit bekend is, ’n plek waar studente informeel kan bymekaarkom om sport op televisie te kyk, of sommer net te kuier.

 

Die nuwe uithangplek is by die krieketklubhuis en is ontwerp sodat studente kan kuier, netwerk, eet en ontspan. “Die nuwe Student Sports Pub is een van die opwindende nuwe inisiatiewe wat die ervaring van studentelewe verbeter,” sê Sean, en voeg by dat personeel gerus ook daar kan gaan kuier.

 

Prof Linda du Plessis, die adjunk-visekanselier vir strategiese beplanning en vir kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, en Thokozani Hadebe, voorsitter van die studente-kampusraad, het die sportkroeg amptelik op 15 Februarie 2018 geopen.

 

Die sportkroeg is Maandae, Woensdae en Vrydae van 17:00 tot 22:00 oop. Donderdae word vir groepbesprekings deur koshuise, verenigings en sportklubs gereserveer. Vir meer inligting, kontak asseblief vir Sean by (016) 910 3229, of per e-pos by sean.mccallaghan@nwu.ac.za.

 

Herman Steyn, direkteur vir besigheid-ondernemingsontwikkeling, is hier saam met lede van die studente-kampusraad tydens die opening van die sportkroeg.

Sean McCallaghan, Thokozani Hadebe, en prof Linda du Plessis woon die amptelike opening van die Student Sports Pub by.