>

LEES MEER

>

Inspuiting vir
NWU se gesondheidsdienste

Harries Thaba, hoofverpleegkundige van die studentegesondheidsentrum op die kampus in Mahikeng, sê hy het by die NWU aangesluit omdat hy dit as ’n geleentheid vir groei beskou. “In ’n akademiese omgewing word ’n mens gestimuleer om aan te hou studeer,” sê hierdie Limpopo-gebore bestuurder.

Die verskaffing van gesondheidsdienste aan studente van die NWU word deurlopend verbeter, met gesondheidsdienste aan moeders nou een van die gespesialiseerde aanbiedings wat beskikbaar is, veral op die kampus in Mahikeng.

Harries Thaba, die hoofverpleegkundige van die studentegesondheidsorgsentrum het hierdie diens ingestel toe hy in Oktober 2017 by die NWU aangesluit het.

 

Harries het natuurlik die nodige kwalifikasies. Hy is ’n geregistreerde professionele verpleegkundige in algemene verpleegkunde, psigiatrie, gemeenskapsgesondheid en verloskunde, en ’n kliniese verpleegkundige spesialis in primêre gesondheidsorg en gevorderde verloskunde.

 

“Volgens die Wet op Verpleging mag slegs ’n geregistreerde of ingeskrewe verloskundige sorg aan swanger vroue gee,” sê Harries.

 

Hou gesondheidsdienste
goed dop

 

Harries se verantwoordelikhede sluit die oorhoofse toesighouding oor personeel, administrasie en daaglikse bedryf van die sentrum in, asook die verkryging van voorraad, die begroting, die monitering van gesondheidsrisiko’s en die versekering dat omvattende primêre gesondheidsdienste aan studente en personeel verskaf word.

 

Hy is egter bekommerd oor sekere gesondheidsaspekte wat hy meen aandag moet kry. Meer klem behoort byvoorbeeld geplaas te word op persoonlike higiëne, aangesien swak higiëne tot kleiner kwale kan bydra wat andersins vermy kon word.

 

Harries sê in die lig daarvan dat talle studente dieselfde badkamergeriewe moet deel, word daar sterk aanbeveel dat studente plakkies dra wanneer hulle die stortgeriewe gebruik sodat velinfeksies voorkom kan word.

 

Die NWU het ook onlangs ’n baie geslaagde veldtog oor besnyding gehou. Harries beklemtoon dat, hoewel dit belangrik is, besnyding nie die verspreiding van seksueel-oordraagbare siektes en MIV voorkom nie.

 

Moontlike dienste in die toekoms

 

Wat die toekoms betref, is die kampus in Mahikeng tans besig om met ambulansdiensverskaffers te onderhandel. Hulle ondersoek die haalbaarheid om so ʼn diens op die kampus te hê om meer gevorderde mediese gesondheidsorg te verskaf wanneer dit nodig is.

 

Ten slotte glo Harries dat, met die beperkte aantal personeellede wat daar tans is, ’n afspraakgebaseerde diens aan studente en personeel wat mediese sorg benodig, ’n haalbare opsie kan wees. Sodoende hoef kliënte nie in lang rye te staan soos wat dit nou dikwels die geval is nie.

 

Hoofverpleegkundige Harries Thaba ondersoek Onalenna Gracious Mosegedi, ’n BCom Administrasie-student.