>

>

LEES MEER

Prof neem waar as regter in Hooggeregshof

Die NWU se prof Elmarie van der Schyff van die Fakulteit Regte het van 9 Oktober tot 17 November 2017 as waarnemende regter in die Hooggeregshof van Suid-Afrika se Gauteng-afdeling in Pretoria gedien. Eish! het haar oor hierdie ondervinding uitgevra.

Hoe het dit gebeur dat jy genader is?

Waarnemende regters word op aanbeveling van die Regter President aangestel. Die Regter President het my curriculum vitae oorweeg en my aanbeveel.

 

Wat is jou indrukke van die tyd as waarnemende regter?

Die afgelope ses weke sal definitief uitstaan as een van die hoogtepunte van my loopbaan. Ek het baie hard gewerk en bitter min geslaap. Ek was deurentyd bewus van die besef dat elke besluit wat ek neem direk op mense se lewens impakteer – dit is 'n geweldige verantwoordelikheid. Ek was ongelooflik beïndruk met die werksetiek en kwaliteit van regspleging en toewyding van al die regters met wie my pad gekruis het.

 

Wat het jy uit hierdie ondervinding geleer?

Ek het weer eens besef hoe belangrik goeie onderrig is. Ek hoop om my ondervinding in my klasse terug te ploeg. Hoewel ons beslis nie studente oplei net vir die praktyk nie, is dit noodsaaklik dat ons hulle toerusmet kennis en vaardighede om die beroepslewe suksesvol aan te pak.

 

Ons student moet die uitdagings van die praktyk kan bemeester. Analitiese denke, beplanning, etiek, en tydsbestuur is noodsaaklike vaardighede wat geslyp moet word terwyl studente die nodige kennis bemeester. Die beoefening van 'n regsloopbaan is nie speletjies nie en dit is nie vir lui mense nie. Ek het ook weer besef dat mens altyd 'n student bly. My eie kennis het geweldig toegeneem.

 

Sal jy weer die uitdaging aangryp en wat sal jy dan anders doen?

Ek sal beslis weer die kans aangryp as dit oor my pad kom en vir my beskik is. Ervaring is maar altyd die beste leermeester en ek sal my beplanning verfyn.

 

my beskik is. Ervaring is maar altyd die beste leermeester en ek sal my beplanning verfyn.

 

Waar kom jy oorspronklik vandaan en waar het jy grootgeword?

Ek is in Vereeniging gebore en getoë. Ek was in Hoërskool Overvaal en het my grade BA Regte en LLB aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi. Hier het ek die. Ek is in 1990 met Fanie van der Schyff, ’n predikant van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika getroud.

Fanie se eerste gemeente was in Pongola, en dit is waar ek as prokureur begin praktiseer het. Hy is later na Parys beroep en hier het my paaie weer met die NWU gekruis toe ek in 2002 voltyds as lektor aangestel is.

 

Ek het verder studeer en in 2003 my LLM en in 2007 my LLD verwerf. Fanie is intussen na Potchefstroom beroep. In 2009 is hy na die Gereformeerde Kerk-Brooklyn, Pretoria beroep. Ek pendel sedert 2009 tussen Pretoria en Potchefstroom. Ek het drie kinders: Veronica (25), Peet (23) en Cobus (17).

 

Waar het jou liefde vir die regte begin?

My pa is my professionele-rolmodel. Hy is op die ouderdom van 77 steeds 'n praktiserende prokureur.  Ek het van kleins af saam met hom hof toe gegaan en hy het my van kindsbeen af "geïndoktrineer" met die beginsel dat almal gelyk is voor die reg. Dit is ook by hom wat ek geleer het dat regslui nie kantoorure het nie maar 24/7 in diens van die reg is.

 

 

Wat doen jy as nie met akademie doenig is nie?

Ek en my mense hou baie van die natuur en as ons 'n tydjie het, gaan stap ons graag. Ons is ook gek oor die see.

 

 

 

Prof Elmarie van der Schyff sê sy het waardevolle ervaring opgedoen terwyl sy as waarnemende regter in die Hooggeregshof van Suid-Afrika se Gauteng-afdeling in Pretoria gedien het.