>

>

LEES MEER

is entoesiasties, vasberade en ervare

Dis nie altyd maklik om as vrou met die korporatiewe leer na bo te klim nie. Drie nuwe direkteure by die NWU het getoon dat dit gedoen kan word – met baie harde werk, vasberadenheid en passie.

 

Vuyiswa Xoba is as die direkteur vir organisasie-ontwikkeling aangestel, Evalancia Jones as die nuwe direkteur vir bedryfs- en kliëntediens, en Prudence Mohoto as die direkteur vir talentbestuur.

NWU se nuwe direkteure

Van gesondheidsorg tot mensehulpbronne

 

Vuyiswa Xoba kom van Orkney, ’n klein dorpie in Noordwes, en het haar loopbaan met opleiding as verpleegkundige begin. Toe sy besef hoe passievol sy oor mense is, het sy verpleging vir mensehulpbronne verruil.

 

Sy het die afgelope 11 jaar by ’n aantal korporatiewe instellings in mensehulpbron-verwante poste gewerk. Voordat sy NWU toe gekom het, was sy die leer- en ontwikkelingsbestuurder vir Sun International in Bloemfontein. Sy is vanaf 11 September hierdie jaar as die NWU se direkteur vir organisasie-ontwikkeling aangestel.

 

“Ek wil deur verskillende organisatoriese tussenkomste bydra om ’n verenigde en getransformeerde instelling te bou en ’n stewige organisasiekultuur te vestig,” sê Vuyiswa. In haar nuwe rol is dit haar prioriteit om as deel van die nuwe bedryfsmodel tot die optimalisering van die universiteit se prosesse en stelsels by te dra.

 

“Regdeur my loopbaan het ek bewustelik rolle gekies wat my die geleentheid bied om te dien. Ek glo vas jy moet kan dien voordat jy kan lei,” sê sy.

 

Doeltreffendheid en gehalte is topprioriteit

 

“Ons grootste vrees is nie dat ons ontoereikend is nie. Ons grootste vrees is dat ons onmeetlik sterk is.” Hierdie aanhaling deur die Amerikaanse skrywer en dosent Marianne Williamson motiveer Evalancia Jones om altyd haar beste te lewer.

 

Sy het aanvanklik in 2012 by die NWU begin werk as die mensekapitaal-direkteur vir kliëntediens, wat die destydse

Potchefstroomkampus en Institusionele Kantoor bedien het. Na die herstruktureringsproses in Julie is Mensekapitaal se Kliëntediens- en Bedryfsafdeling gekombineer en sy is as die direkteur aangestel.

 

“In hierdie nuwe rol is ek van plan om die basiese goed reg te doen. Ek sal moet teruggaan na die begin en die vermoëns van ons personeel evalueer, bepaal watter mensehulpbron-stelsels beskikbaar is, evalueer of die mensehulpbron-beleide en -riglyne die behoeftes van die instelling bevredig en die responsiwiteit van die diensverskaffing ontleed,” sê Evalancia.

 

Sy het haar meestersgraad in publieke administrasie aan die Universiteit van die Wes-Kaap verwerf en haar MBA aan Universiteit Stellenbosch. Sy werk tans aan haar doktorsgraad in besigheidsadministrasie via die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk.

 

Gereed om die universiteit na nuwe hoogtes te neem

 

Met meer as 12 jaar se ervaring in die mensehulpbronnesektor en -poste in organisasies soos die Spar-groep, bring Prudence Mohoto ’n vars benadering na haar nuwe pos as die direkteur vir talentbestuur.

 

Toe sy gevra is wat sy in haar rol wil implementeer, het sy gesê: “Ek wil my span laat saamwerk om talent na die NWU te lok en vir die NWU te werf, en die talent wat by die NWU is, te herontplooi en vergoed.”

 

Dié voormalige inwoner van Pretoria glo vas opvoeding is die sleutel tot sukses. Sy beplan om haar eie studie in die nabye toekoms voort te sit.

Die NWU sien daarna uit om die die talent, toewyding en kundigheid te benut wat Prudence, Evalancia en Vuyiswa na hulle nuwe poste bring

Vuyiswa Xoba is as die direkteur vir organisasie-ontwikkeling aangestel.

Evalancia Jones is die nuwe direkteur vir bedryfs- en kliëntediens.

Prudence Mohoto is as die direkteur vir talentbestuur aangestel.