Sommige van die meesterstukke wat op die app beskikbaar is, sluit die werk van Cecil Skotness, Bettie Cilliers-Barnard en George Pemba in.

'n Nuwe app (toepassing) van die NWU Galery en die MTN Stigting gee aan jong kunstenaars die geleentheid om hul kunsvaardighede te ontdek en ontwikkel. Die aanlyn inkleurapp, #LearnArt – for kids, kan dalk net die regte instrument wees om ’n nuwe geslag tegnologiegebruikers te motiveer om buitengewone kunstenaars te word.

 

#LearnArt – for kids is een van die inisiatiewe in die suksesvolle vennootskap tussen die NWU en die MTN Stigting, wat die NWU Galery se bekroonde kunsprogram borg.

 

Hierdie vennootskap het reeds tot ’n benoeming vir die gesogte ontwikkelingstoekenning van Business and Arts South Africa (BASA) gelei.

 

Jongmense gee nuwe kleur aan meesterstukke

 

Die opwindende aanlyn inkleurapp gee aan kinders die geleentheid om replikas van kunswerke in te kleur wat deel van die onderskeie versamelings van die NWU Galery en MTN Stigting is. Hulle kan hulle kreatiwiteit gebruik om vars kleur aan klassieke kunswerke deur kunstenaars soos Bettie Cilliers-Barnard, George Pemba, Irma Stern, Justin Dingwall en Maureen Quin te gee.

 

Die app is in September by die FNB Joburg Art Fair 2017 bekend gestel. Dit is die eerste keer dat die kunsversamelings van die NWU en MTN aanlyn verskyn. Die app is vryelik aanlyn beskikbaar en kan vanaf enige toestel oopgemaak word. Die NWU en MTN sal dit gebruik vir opvoedkundige programme soos die 2017 Art Safari for Kids, wat ook deel van die onlange Aardklop Kunstefees in Potchefstroom was.

Fokus is op opvoeding en opheffing

 

Soos die NWU Galery is die MTN Stigting ’n entiteit sonder winsoogmerk. Saam fokus hulle op opvoedkundige en opheffingsprojekte wat betekenisvolle, meetbare en volhoubare verandering teweeg kan bring om benadeelde en landelike gemeenskappe te help om selfvoorsienend te word.

 

“Ons gebruik die sosiale media as ons kernmedium om met ons gehore in verbinding te tree en ons reikwydte as ’n universiteitsgalery, sowel as dié van ons kunsversameling, te vergroot,” sê Christina Naurattel, hoofkurator van die NWU Galery. “Ek is so opgewonde om ’n nuwe weergawe van ons opvoedkundige program aanlyn beskikbaar te sien. Dit is daarop gemik om die gehoor van die toekoms deur tegnologie en sosiale media te ontwikkel.”

 

Niel Nortjé, bestuurder van die MTN Kunsversameling, sê die MTN Stigting se kunsversamelingvennootskap met die NWU Galery sedert 2016 is baie voordelig. “Dit het nie net bronne en nuwe gehore vir albei versamelings beskikbaar gestel nie, maar maak ook deelname aan ’n internasionaal erkende arena soos die Joburg Art Fair moontlik.”

 

Hy sê die skep en bekendstelling van die opwindende platform vir kuns- en kultuurinteraksie stem ook met die MTN Stigting se strategiese doelwit van opvoedkundige ontwikkeling ooreen.

 

 

NWU stel opwindende app

vir jong kunstenaars bekend

Klik hier om die app af te laai.

>

>

LEES MEER