>

>

LEES MEER

Moenie net sit en praat nie, staan op en stap

’n Navorser aan die NWU glo oefening is die antwoord op talle van die uitdagings rakende gesondheid en geluk wat die gemiddelde werkende mens ervaar.

Dr Stefan Kruger van die WorkWell-navorsingseenheid sê dis hoekom hy “stapvergaderings” sterk aanbeveel. Hy het met Eish! gepraat oor die belangrikheid van gesonde gewoontes vir die algehele welstand van personeel.

Stefan is ’n man met ’n missie, en daardie missie is om almal sover te kry om uit hulle stoele op te staan en te begin stap. Hy is oortuig dat die meeste personeellede te veel van hulle werksdag voor hulle lessenaars spandeer. Hy sê dit is veral waar van ondersteunings- en administratiewe personeel wat selde hulle kantore gedurende werksure verlaat.

 

“Uitgebreide navorsing het getoon dat ’n gebrek aan oefening talle gesondheidsimplikasies het, soos rug- en nekpyn, depressie, angs en selfs gewigsprobleme, om maar net ’n paar te noem. Dit kan selfs op die lang duur tot tipe-2-diabetes en kardiovaskulêre probleme lei.”

 

Stap na geluk

 

Stefan se navorsing, wat hy in 2007 begin het, fokus op die impak van ontspanning op die algemene lewensgehalte en geluk van personeel by die werk. “Ons het gevind dat personeel wat gereeld oefen oor die algemeen gelukkiger en meer tevrede is as hulle minder aktiewe kollegas. Dit het ’n direkte impak op hulle lewensgehalte.”

 

Stapvergaderings is die nuwe internasionale tendens, sê hy. “Dit beteken dat al die personeel buite hulle kantore en geboue rondstap terwyl hulle ’n vergadering hou. In plaas daarvan om vir ’n uur of twee in ’n muwwe raadsaal te sit, kan hulle rustig stap en die natuur en die vars lug geniet terwyl hulle werksake bespreek. Hulle kan selfs vir kort rukkies langs die pad stop indien nodig.”

 

Stefan sê met die regte gesindheid en toewyding kan uitdagings soos onbeheerbare groot groepe of die onbeskikbaarheid van infrastruktuur maklik oorkom word deur oplossings te vind wat vir die spesifieke groep sal werk. Dit kan insluit dat daar met kleiner

besprekingsgroepe gewerk word of dat ander geskikte plekke vir vergaderings gekry moet word.

 

Stapvergaderings het ’n positiewe uitwerking op individue. “Dit bevorder positiewe breinfunksionering en fisieke gesondheid in die algemeen. Gepubliseerde navorsing bewys dat sonlig byvoorbeeld vitamien D-opname bevorder wat noodsaaklik is vir ’n langer lewe, gesonde bene en algehele geluk.

 

“Fisiese beweging verbeter dus nie net produktiwiteit in die werkplek nie, maar dit bevorder ook ’n gesonde metabolisme, wat uiteindelik beteken dat mense minder as gevolg van siekte van die werk afwesig is.”

 

Stap julle nog nie?

 

Stefan gee raad aan personeellede wat hulle gesondheid wil verbeter, selfs al neem hulle nog nie aan stapvergaderings deel nie.

 

“Elke poging maak ’n verskil aan jou eie geluk. Dit is byvoorbeeld beter om ’n sentrale drukker in ’n ander kantoor te hê. Dit sal die personeel aanmoedig om op te staan.

 

“Geniet jou tee of koffie buite die gebou en neem genoeg blaaskanse gedurende die dag om jou produktiwiteit en kreatiwiteit ’n hupstoot te gee.”

 

Stefan daag die personeel uit om hulle eie stapvergaderings buite die raadsale te begin.  “Dit sal interessant wees om te sien watter departement of fakulteit eerste die uitdaging gaan aanpak en hoe hulle dit ervaar,” sê hy. Vir meer inligting oor stapvergaderings, skakel vir Stefan by X85 2312.

Dr Stefan Kruger van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die kampus in Potchefstroom het saam met bekende navorsers en skrywers soos Muzaffer Uyusal en Joseph Sirgy gewerk. Hulle spesialiseer in studies en publikasies oor lewensgehalte.