>

>

LEES MEER

Met die oog op die eerste borsvoedingsvertrek wat die NWU geopen het ter viering van Wêreld Borsvoedingsweek in Augustus, gesels Eish! met Chantell Witten oor die opname waar alles begin het.

Borsmelk is die optimale voedsel vir babas en is noodsaaklik vir hulle oorlewing, sê Chantell Witten, senior lektor in die vakgroep Voeding in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die kampus in Potchefstroom. Sy voer ’n veldtog om geskikte borsvoedingvertrekke by die NWU te kry waar personeel wat borsvoedende moeders is privaat en higiënies borsmelk vir latere gebruik deur hulle babas kan uitmelk. Hier is sy by die nuwe borsvoedingsvertrek wat Made for Moms genoem word.

BEWEEG OOR DIE FOTO OM MEER TE LEES.

Wat staan in die Goeie Praktykskode?

 

Volgens die kode moet reëlings getref word vir werknemers wat borsvoed om vir die eerste ses maande van hul kinders se lewens twee keer per dag vir 30 minute lank hulle werk te kan onderbreek om te borsvoed of uit te melk.

Chantell Witten, senior lektor in die vakgroep Voeding in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die kampus in Potchefstroom, het die idee van die borsvoedingsvertrek in 2016 geïnisieer.

 

Dit was nadat haar vierdejaar BSc Voeding-studente, in vennootskap met die NWU Wellness-program, ’n opname onder die personeel op al drie kampusse gemaak om meer oor die behoeftes en persepsies van personeel oor borsvoeding by die werkplek uit te vind.

 

Belangrike bevindinge

 

’n Totaal van 362 personeellede het aan ’n elektroniese opname deelgeneem, en afsonderlike onderhoude is met uitgesoekte personeel in bestuurs- en leierskapposisies gevoer.

 

Hoewel daar ’n oorweldigende ondersteuning vir ’n borsvoedingsbeleid was, was daar ’n gebrek aan ’n bewustheid oor die noodsaaklikheid om borsvoedende moeders in die werkplek te beskerm en te ondersteun.

 

Wat ’n kwelling is, is dat nie een van die bestuurders wat aan die opname deelgeneem het, bewus was van die voorsiening wat in die Suid-Afrikaanse Goeie Praktykskode oor die beskerming van werknemers tydens swangerskap en ná geboorte gemaak word nie.

 

Wat personeel te sê het

 

Hoewel daar in die verlede ’n paar negatiewe insidente en verslae aan die NWU se Departement Mense en Kultuur oor borsvoeding by die werkplek was, is dit duidelik uit die opname dat bestuurders en kollegas gewillig is om die ontwikkeling van ’n borsvoedingsbeleid te ondersteun. Dit is in ooreenstemming met die universiteit se billikheidspraktyke oor geslagsgelykheid, die transformasie-agenda en sy bydrae tot ’n gesonde en volhoubare Suid-Afrika.

 

Daar is egter onder respondente ’n gebrek aan begrip en duidelikheid oor wie die daarstel van só ’n beleid aan die gang behoort te kry.

 

Eerste borsvoedingvertrek

 

Die nuwe borsvoedingvertrek is met die ondersteuning van prof Marius Smuts, die direkteur van die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding (CEN), in gebruik geneem. ’n Geskikte ruimte is by die Lipied-kliniek in gebou G17 geïdentifiseer en die vertrek is ter viering van Wêreld Borsvoedingweek in gebruik geneem.

 

Dit is die eerste stap om die universiteit se ernstige gebrek aan geriewe vir moeders wat hulle borsmelk moet uitmelk, te hanteer.

 

“Vir talle mense is dit nog taboe om in die openbaar te borsvoed, en dit is waarom hulle dit nie in die werkplek ondersteun nie,” sê Chantell. “Ons eerste borsvoedingvertrek is ’n stap in die regte rigting, maar ideaal gesproke behoort daar eendag borsvoedingruimtes in elkeen van ons geboue te wees waar vroue werk.”

 

Vir meer inligting oor borsvoeding by die werkplek, skakel Chantell by X99 2473.

 

 

Kyk na hierdie video oor borsvoeding – dit sluit onder meer Chantelle Witten se deelname aan die TV-program, Health Talk op SABC News in.