Hy het wel in twee van Suid-Afrika se grootste stede, Kaapstad en Durban, gewerk, maar Christopher Motabogi het sy voete plat op die aarde en is baie gelukkig om nou te werk waar “alles vir hom begin” het.

Christopher Motabogi is onlangs as kommunikasiebestuurder aangestel en is vir interne en eksterne kommunikasie op die kampus in Mahikeng verantwoordelik.
Read More

BEWEEG OOR DIE FOTO OM MEER TE LEES.

Christopher het op 1 Julie 2017 as kommunikasiebestuurder by ons kampus in Mahikeng aangesluit. Sy verantwoordelikhede behels interne en eksterne kommunikasie vir die kampus.

 

Terug na die basiese dinge

 

“Dit is ’n absolute seën om terug te keer na dieselfde instelling waar dit alles meer as twee dekades gelede vir my begin het. Ek wil al my energie fokus om ‘die NWU as ’n unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid, met ’n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid, te posisioneer’ soos ons strategieverklaring dit voorskryf,” sê hy.

 

Hy is ’n NWU-alumnus wat sy BA-graad in kommunikasie aan die voormalige Universiteit van Bophuthatswana verwerf het. Hy het ook ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en ’n meestersgraad in mediastudies aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

 

Werk met woorde

 

Sy passie vir “alles wat met kommunikasie te doen het” het tot ʼn florerende loopbaan in radio, televisie en aanlyn media gelei. Om sy vaardighede uit te brei, beplan Christopher om volgende jaar vir ’n MBA-graad by die NWU te registreer.

 

Hy was tot onlangs die nuusredakteur by East Coast Radio, KwaZulu-Natal se grootste handelsradiostasie, waar hy verantwoordelik was vir die daaglikse bedryf van die nuusdepartement wat uit 13 werknemers bestaan het.

 

Reis is bobaas

 

Hy is met Lerato (néé Gaetsewe) getroud en hulle het twee dogters, Kutlwano (13) en Terry (5). Reis is ’n opwindende aktiwiteit vir sy gesin en hulle het in April hierdie jaar Oos-Londen in die Oos-Kaap besoek om hul agtste huweliksherdenking te vier. Hulle beplan iets meer eksoties vir hulle tiende huweliksherdenking.

 

Limpopo en Mpumalanga is die enigste twee provinsies wat Christopher en sy gesin nog nie besoek het nie, en hulle hoop om dit in die nabye toekoms te doen. Bo-aan die gesin se doen-lysie is om nog deur Afrika te toer, veral in Ghana en Mosambiek.

 

Christopher is ’n radiofanatikus en passievol oor die ontwikkeling van radio in Suid-Afrikaanse gemeenskappe. As joernalis is hy ook ’n ywerige leser wanneer hy tyd kry.

 

 

>

>

LEES MEER