>

>

LEES MEER

binne en buite die lesingsaal

Kragpaartjie is kreatief

Ontmoet vir prof Danie en Natanya Meyer, een van die skeppendste paartjies by die NWU. Wanneer hulle nie besig is om navorsing te doen, lesings te gee of entrepreneurskap te bevorder op die kampus in Vanderbijlpark nie, leef hulle hul liefde vir kuns uit.

 

Wat talle kollegas nie weet nie, is dat Danie en Natanya kunstenaars in eie reg is. Die paartjie – wat reeds nege jaar lank getroud is – het vir die eerste keer hulle kuns uitgestal by ’n fondsinsamelingsgeleentheid wat die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum ’n paar jaar gelede gehou het. Sedertdien pryk hulle skilderye op die mure van verskeie kantore op die kampus.

 

 

Danie en Natanya verkies albei olieverf as medium, en hoewel hulle hul werk verkoop, stem hulle saam dat dit eerstens ’n kreatiewe proses is, wat ook ’n wonderlike manier is om van stres ontslae te raak.

 

Danie, wat onder die skuilnaam VanMey skilder, skilder hoofsaaklik landskappe, terwyl Natanya daarvan hou om haar in die fantasiewêreld te begewe. Behalwe skilder, leef Natanya ook haar kreatiwiteit deur ander mediums uit, soos brandskilderglas, mosaïekwerk en piouter. Sy is ook ’n befaamde tuinontwerper en landskapsargitek.

 

Danie is ’n medeprofessor by die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Baie mense ken hom as kundige in plaaslike ekonomiese ontwikkeling en as die koördineerder

 

 

van AppLED, ’n navorsingsprojek wat fokus op toegepaste plaaslike ekonomiese ontwikkeling binne die Vaaldriehoekstreek.  As stigterslid van die Vaal LED Warriors, ’n drukgroep vir groter en meer proaktiewe ekonomiese ontwikkeling in die Vaaldriehoek, is Danie ’n prominente figuur in plaaslike sake- en regeringsirkels.

 

Natanya, ’n kundige in entrepreneurskap (en veral vroue-entrepreneurskap) is ’n dosent en navorser in die Skool vir Bestuurswetenskappe in dieselfde fakulteit as Danie.

 

Op die kampus in Vanderbijlpark is sy bekend as die voog van die organisasie vir jong entrepreneurs (YEBO), ’n studentevereniging wat hulle beywer om entrepreneurskap as volhoubare alternatief vir formele aanstellings te vestig.

Vanaf landskap na fantasie