>

>

FOKUS

OP

Korporatiewe Kommunikasie het in Mei vanjaar ’n opname gedoen om die effektiwiteit van interne kommunikasie by die NWU te bepaal. Eish! het met Louis Jacobs, direkteur vir korporatiewe kommunikasie, oor die resultate gesels.

Interne kommunikasie-opname

V: Watter van die interne kommunikasiekanale het die 489 respondente die effektiefste gevind?

A: Die resultate het getoon dat die nuusbrief “Van die Visekanselier se tafel” die effektiefste interne publikasie by die NWU is, met 58% van die respondente wat dit as baie effektief beskou het, en 33% as gemiddeld. Van al die NWU se publikasies het hierdie een die minste “Ek lees dit nie”- en “Oneffektief”-response gekry.

 

V: Hoe het Eish! gevaar?

A: Eish! was kort op die hakke van “Van die Visekanselier se tafel”, met 45% van die respondente wat dit baie effektief gevind het en 34% wat dit as gemiddeld beskou het. Slegs 21% van die personeellede het Eish! as oneffektief beskou en aangedui dat hulle dit nie lees nie.

 

In al die gevalle het ongeveer twee-derdes van die respondente aangedui dat hulle tevrede is met die frekwensie van die verskillende kommunikasiekanale.

 

V: Het respondente gesê waarom hulle sommige van die interne kommunikasiekanale nie gebruik nie?

A: Ja, die grootste rede wat aangevoer word, is dat personeellede nie tyd het om dit te lees nie. Hulle het “oorlading van e-pos-inmandjie” as die tweede grootste rede aangedui, gevolg deur “nie vir my relevant nie” as die derde rede.

 

V: Deur watter kommunikasiemedia verkies hulle om hul kommunikasie te kry?

A: Vir algemene interne kommunikasie verkies hulle verreweg e-posse. Hulle tweede voorkeur is die intranet, en derdens kommunikasie per SMS. Wanneer dit egter by krisiskommunikasie kom, is hulle eerste keuse ’n SMS en die tweede keuse ’n e-pos.

 

Talle respondente het WhatsApp as moontlike kommunikasiekanaal voorgestel – iets wat ons beslis sal ondersoek.

 

V: Wat beskou hulle as die belangrikste funksie van kommunikasie?

A: Die belangrikste is dat dit vir hulle waardevolle inligting moet verskaf. In die tweede plek moet dit beleide verduidelik, en derdens die geleentheid vir tweerigtingkommunikasie gee.

 

V: Gee die kommunikasiekanale vir hulle die geleentheid vir tweerigtingkommunikasie?

A: Ja, daar is verskeie skakels na die redakteur se e-posadres vir kommentaar of voorstelle. Ongelukkig gebruik baie min lesers dit. Ons wil regtig graag gereelde terugvoer oor elke uitgawe van ons verskillende publikasies ontvang, en nie net deur minder gereelde metodes soos hierdie opname nie.

 

V: Van watter onderwerpe het die respondente die meeste gehou en watter wil hulle graag meer dikwels sien?

A: Die gewildste onderwerpe in ons interne kommunikasiekanale was – van die belangrikste tot minder belangrik – algemene kennisgewings, interne opleiding en ontwikkeling, belangrike gebeurtenisse soos konferensies en konserte, kampusnuus en boodskappe van die visekanselier.

 

Hoewel dit reeds ingesluit word, het die respondente aangedui dat hulle selfs meer inligting oor interne opleiding en ontwikkeling, belangrike gebeurtenisse, beleide, implementering van strategieë/strukture wat pas aanvaar is, en algemene kennisgewings wil hê.

 

V: Wat was die interessantste voorstelle of kommentaar wat julle ontvang het?

Van die respondente het gevoel dat daar te veel verskillende kanale is en dat van hulle gekombineer kan word, terwyl ander tevrede was met die huidige kommunikasiekanale.

 

Een van die kwellings was dat sommige van die kanale te “groot” is en dus hulle e-pos-inmandjies volmaak. Hierdie response toon dat nie almal verstaan dat hulle net die skakels na die inligting in hulle inmandjies kry nie – die inligting en foto’s word elders gestoor.

 

Ons sal dit ook oorweeg om meer studente- en sportnuus te plaas, korter artikels te skryf, makliker navigasiemoontlikhede te verskaf, en breedsprakigheid en ingewikkelde kommunikasie te vermy.

 

Ek wil ons kollegas bedank vir hulle waardevolle insette en die eerlikheid waarmee hulle die vraelys ingevul het. Korporatiewe Kommunikasie sal beslis die terugvoer kan gebruik om doeltreffender interne kommunikasie te verseker.