Personeel stap steeds daardie tweede myl

Die NWU het toegewyde personeel wat uit gewoonte meer as hulle normale pligte nakom. In die gereelde “tweede myl”-reeks van Eish! gee ons erkenning aan kollegas wat meer doen as wat van hulle verwag word.

As jy graag ’n kollega wil benoem wat altyd die tweede myl saamstap, stuur asseblief ’n e-pos aan willie.duplessis@nwu.ac.za. Onthou om jou postitel en die naam van jou departement of skool aan te dui, asook dié van die persoon wat jy benoem. Gee ook redes waarom jy dink die persoon die tweede myl stap.

beweeg oor DIE foto's om meer te lees.

 

 

Dr Sipho Kwatubana, senior lektor by die Skool vir Opvoedkunde op ons kampus in Vanderbijlpark, sê Amanda Smith, koördineerder by die hoërgradekantoor, is altyd gewillig om te help, en is vriendelik en toeganklik.

 

“Wanneer mense oor goeie kollegas praat, dink ek altyd aan haar. Sy is baie professioneel en help altyd met ’n glimlag. Dit kan vir ander onbeduidend lyk, maar ’n vrolike ingesteldheid soos hare is aansteeklik.”

 

 

 

 

 

 

Dr PH Boer, senior lektor in Sportwetenskap op ons kampus in Mahikeng, loof Granny Mogotsi, persoonlike assistent, en John Nchoe, fakulteitsbestuurder, vir hulle harde werk, vriendelikheid en bereidwilligheid om te help.

 

Hy sê Granny en John doen wonderlike werk by die Skool vir Menslike en Sosiale Wetenskappe en maak die lewe beter en makliker vir al hulle kollegas.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

“Marietjie du Toit, senior administratiewe assistent by Maatskaplike Werk, is ons steunpilaar,” sê Tasleem Hassim, dosent in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.

 

“Sy is die gom wat ons aanmekaar hou. Marietjie is georganiseerd en help die akademiese personeel met alles.”

 

Tasleem sê Marietjie reël dat hulle studiegidse en eksamenvraestelle betyds gereed is, en herinner hulle aan belangrike datums.

 

“Sy kom voor al die ander personeel werk toe en loop eers wanneer almal al weg is. Terwyl ons onder druk is, help sy ons en bring selfs soms koek om ons gemoedere op te kikker.”

 

 

Prof Salome Kruger van die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding op ons kampus in Potchefstroom sê Ronel Benson, senior administratiewe assistent, en Henriëtte Claasen, finansiële beampte, is sprekende voorbeelde van personeel wat die tweede myl stap.

 

“Hierdie twee buitengewone vroue is altyd betyds en werk meestal tot heelwat ná 17:00 om seker te maak dat alles by die sentrum op datum is.  Hulle is altyd vriendelik, selfs wanneer daar baie werksdruk is.

 

“Hulle probeer altyd help, selfs as die personeel laat is met die indiening van aansoeke, verslae of ander vorms. Die personeel van die sentrum wil hulle graag loof omdat hulle ons staatmakers is,” sê Salome.

>

>