>

Die MBA-studente se harde werk en toewyding is uiteindelik beloon toe hulle hul grade by die MBA-gradeplegtigheid ontvang het.

 

Finansiële konsultant die room van die oes

 

Twee vroue is aangewys as die beste presteerders van die klas van 2015.

 

Yolande Peach van Vanderbijlpark is die Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur se toppresteerder. Die Ou Mutual goue medalje is tydens die seremonie by Crista Galli in Potchefstroom aan haar oorhandig. Sy is ʼn onafhanklike finansiële bestuurskonsultant en werk tans in Zimbabwe en Zambië vir die konsultasiemaatskappy Redford Capital.

 

“ʼn MBA behoort amper nie aan jou toegeken te word as jy nie éérs getoets is oor hoe om alles toe te pas wat jy in al die vorige modules geleer het nie,” sê sy. “Dit was harde werk, maar die toepassing van al die kennis was beslis die beste deel van die kursus.”

 

Bemagtiging van vroue deur e-handel

 

Die toekenning vir die beste verhandeling het aan Almarie Stander van KwaZulu-Natal gegaan. Sy het die silwermedalje van PPS Investments ontvang vir haar uitsonderlike skripsie.

 

Almari se skripsie was oor die bemagtiging van vroue deur e-handel. Sy het navorsing gedoen oor hoe vroue deur hul eie aanlyn besighede ʼn bestaan kan maak. Hierdie uitstekende skripsie is onder leiding van prof Stephan van der Merwe gedoen.

 

Groeptoekenning vir aanbieding

 

Die studentegroep Take 5! was die ontvangers van die Aspen Pharmacare-wisseltrofee vir ʼn uitstekende strategiesebestuursaanbieding aan ʼn maatskappy.

>

TERUG