Plaas die datastokkie in die toepaslike opening.

Druk die knoppie om die opname te begin/te stop.

Haal die datastokkie uit wanneer jy klaar is.

Ateljee eerste van sy soort in Afrika

Die Vaaldriehoekkampus het onlangs die eerste videoproduksie-ateljee van sy soort in Afrika bekendgestel. Dié ateljee lig nie net die dwarslat met betrekking tot die kwaliteit van professionele videoproduksie nie, maar maak dit ook heelwat makliker om hoëgehalte opvoedkundige video’s te vervaardig.

>

>

BEWEEG AF

Die kampus se Direktoraat Akademiese Ontwikkeling en Ondersteuning (AOO) het Afrika se eerste One Button-ateljee geopen. Dit is geskoei op die One Button-ateljee by die Penn State-biblioteke in die Verenigde State.

 

Die Vaaldriehoekkampus se nuwe ateljee – wat in die Leer- en Navorsingsmeent geleë is – het heelwat toepassings en sal videogeletterdheid onder akademiese personeel en studente bevorder.

 

“Die One Button-ateljee is ʼn innoverende manier om studente en dosente te help om deur videoproduksie hul onderrig- en leerervaringe te skep, te kommunikeer en te verbeter,” sê dr Marieta Jansen van Vuuren, AOO-verteenwoordiger en projekleier van die One Button-ateljee.

 

“Die ateljee is  ʼn goeie voorbeeld van hoe AOO studente en personeel in staat stel om video-opnames te maak wat aan hulle behoeftes voldoen.”

 

Marieta sê die projek spruit voort uit ʼn behoefte op die kampus om tegnologie en ruimte aan studente en dosente te voorsien om hoëgehalte opvoedkundige videomateriaal op te neem.

 

Wat is die One Button-ateljee?

 

Die One Button-ateljee integreer derdepartyapparatuur om ʼn geoutomatiseerde en gestroomlynde video-opnameateljee te skep. Dit is ʼn vereenvoudigde, selfhelp- en geoutomatiseerde video-opname-opstelling wat gebruik kan word sonder enige vorige ervaring van videovervaardiging.

 

Die ateljee maak dit moontlik om hoëgehalte- en afgeronde videoprojekte te skep sonder enige voorafkennis van ligte en kameras. Al wat die gebruiker hoef te doen, is om ʼn datastokkie te bring en ʼn enkele knoppie te druk.

 

Ateljeeontwerp

 

Die apparatuur-outomatisering van die One Button-ateljeetoepassing skakel fisiese interaksie met hoëtegnologiekomponente grootliks uit. Volgens Lance Bunt, ook van AOO, skep dit ʼn netjiese werkruimte waar die gebruiker op die skep van inhoud kan fokus.

 

Een ateljee, baie toepassings

 

Lance verduidelik dat veral sekere tipes videoprojekte besonder goed werk in die One Button-ateljee. Voorbeelde van sulke projekte sluit in aanbiedingspraktyk, modulebekendstellings, konsepvideo’s, opdragte, opnames met groen skerms en gesimuleerde onderhoudomgewings.

 

Vir verdere inligting, kontak gerus vir Marieta Jansen van Vuuren by 016 910 3319 of Lance Bunt by 016 910 3317.

Dr Marieta Jansen van Vuuren is die AOO-verteenwoordiger en die projekleier van die One Button-ateljee.

Die One Button-ateljeeprojek lig nie net die dwarslat wat videovervaardiging en werkvloei betref nie, maar stel ook studente en personeel in staat om hoëgehalte opvoedkundige video’s te ontwikkel.