* As jy weet van ʼn kollega wat iets besonders of interessants in sy of haar lewe buite die universiteit doen, stuur gerus die inligting aan Willie du Plessis by willie.duplessis@nwu.ac.za.

Eerlike kuns

 

“Na my mening is kuns oneerlik as dit nie magskonstrukte in ag neem nie; oneerlike kuns is niks meer as kitsch nie,” sê hy. Om hierdie rede is Francois se kuns blatant eerlik, dikwels persoonlik, en oor brandende kwessies in die hedendaagse samelewing. Dit behels die vermenging van verskeie elemente van Afrika- en internasionale visuele tale in kombinasie met ontwerp en illustrasie om tot die waarnemer oor aktuele kwessies te spreek.

 

Francois sê die term ‘stomspraak’, wat gewild gemaak is deur die Franse filosoof Jacques Ranciére as la parole muette, is spesifiek relevant in die werke wat hy vir Sigspraak geskep het. Die term, ‘stomspraak’, verwys na boodskappe en stories wat nie toegelaat word nie, of wat nie gekommunikeer kan word nie.

 

“Ek wil hê dat waarnemers die status quo-idees van verskille in mense moet herbedink – iets wat veral in die Suid-Afrikaanse konteks relevant is. Ek wil met my werk hê hulle moet boodskappe interpreteer wat nie dikwels geuiter word nie.”

 

Sy werk het ten doel om die elemente te identifiseer wat mense van alle kulture en rasse in gemeen het, selfs te midde van hulle verskille. “Politiek – en ek verwys nie na partypolitiek nie – en kuns kan nie heeltemal van mekaar losgemaak word nie. Daarom is my oogmerk om debat aan te wakker met my kuns; nie deur die inherente politiek te skets nie, maar deur verkenning van die ruimtes waar verskillende aspekte van mens se eie lewe ontvou, teenoor die lewens van mens se onmiddellike 'ander’.”

 

Van stokperdjie na ernstige kunstenaar

 

Francois is ʼn relatief nuwe kunstenaar. Hy het eers in 2013 professioneel begin met sy werke nadat hy kuns aanvanklik meer as ʼn stokperdjie beskou het.

 

Francois sê hy het realistiese kuns heeltemal te beperkend gevind. “Dit laat min ruimte vir die verbeelding.” Dit is waarom sy kuns ʼn mengsel is tussen abstrakte en figuratief herkenbare kuns. “As ek ʼn objek, ʼn hand of ʼn persoon teken, sal die waarnemer dit kan herken – selfs as dit nie realisties geteken is nie.”

 

Francois is ʼn alumnus van die NWU se Potchefstroomkampus wat kunsgeskiedenis en grafiese ontwerp studeer het. Hy en sy vrou, Izell, sien uit na die geboorte van hul tweede kind later vanjaar. Hy is tans besig met sy doktorsgraad in kunsgeskiedenis.

Terug

>

>