NIE BEDOEL OM PERSONEEL TE VERMINDER NIE

KLIK OP DIE PYL

Werksekuriteit is vir alle personeellede baie belangrik. Nadat die visekanselier op 31 Maart 2016 ʼn brief oor die implikasies van die NWU se herstruktureringsproses uitgestuur het, is dit seker geen wonder dat sommige personeellede oor werksekuriteit begin tob het nie.

 

Dit was veral die gedeelte in die brief oor moontlike werksverliese wat waarskynlik 'n paar mense regop laat sit het. Die visekanselier was egter in dieselfde brief baie duidelik oor die oogmerke van die herstruktureringsproses.

 

“Die plan is om bedryfsdoeltreffendheid te bereik en om, so ver dit redelik moontlik is, negatiewe gevolge vir individuele werknemers en werksverlies te verhoed,” het hy gesê.

 

Maar hoekom was dit dan hoegenaamd nodig om moontlike werksverliese te noem? Wel, omdat werksverliese gedurende die herstruktureringsproses nie heeltemal uitgesluit kan word nie, moes ons stappe volg wat aan die Wet op Arbeidsverhoudinge voldoen.

 

Hierdie stappe het behels dat 'n kennisgewing ingevolge Artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge (66 van 1995, soos gewysig) aan alle personeellede uitgereik moes word. (Dit was 'n gedeelte van die brief wat julle ontvang het.)

 

Die middag nadat daardie brief uitgestuur is, het die visekanselier 'n mediakonferensie gehou waarin hy die implementeringsproses verduidelik het en enkele besonderhede oor die nuwe struktuur gedeel het. Luister gerus hier na uittreksels uit die mediakonferensie.

 

Die volgende dag, op 1 April 2016, het julle ook 'n e-pos ontvang oor die verskillende konsultasiesessies op die drie kampusse. Die doel van hierdie sessies is om julle te adviseer wat betref die inhoud van die kennisgewing wat ingevolge Artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge uitgereik is. Ons vertrou dat julle reeds hierdie sessies bygewoon het of dit nog sal bywoon.

 

Indien julle enige vrae of kommentaar oor die implementering van die nuwe struktuur het, stuur dit gerus na hierdie e-posadres: NWUSTRUC@nwu.ac.za. Julle kan ook hier klik om ons strategiehersieningswebblad op die NWU-intranet te besoek.

 

BEWEEG AF

>

>