Die NWU het nou één verenigde besigheidskool. Dit volg ná ʼn aankondiging dat die Potchefstroom Besigheidskool (PBS) op die Potchefstroomkampus en die Nagraadse Skool vir Sake- en Regeringsleierskap (NSSRL) op die Mafikengkampus van nou af as één entiteit sal funksioneer en bekend sal staan as die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur.

Prof Tommy du Plessis, waarnemende direkteur van die nuwe skool, het hierdie aankondiging gemaak tydens die opening van die MBA-studieskool in Januarie, wat deur personeel en studente bygewoon is. Die gasspreker by vanjaar se opening was Kevin Horsley, een van slegs ʼn handjievol mense op aarde wat al die titel van Internasionale Grootmeester van Geheue kon verwerf.

 

ʼn Antwoord op ʼn uitdaging

Die aankondiging oor die verenigde skool kom presies ʼn jaar nadat prof Dan Kgwadi, NWU-visekanselier, die MBA-studieweek amptelik op 26 Januarie 2015 in Potchefstroom geopen het en ʼn uitdaging aan die twee besigheidskole gerig het om met ʼn unifikasieplan vorendag te kom.

 

Hulle het dadelik werk gemaak daarvan. Die NWU se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur sal op drie plekke aangebied word – op die Mafikeng-, Potchefstroom- en die Vaaldriehoekkampus. “Die drie plekke sal egter verskillend bemark word en sal elk ʼn spesifieke marknis bedien,” sê Tommy.

 

Programme sal deeltyds aangebied word – op Saterdagoggende in Afrikaans in Potchefstroom, Maandagaande in Engels by die Quest-konferensielandgoed in Vanderbijlpark, en sekere naweke in Engels by die Leopard Park-gholflandgoed in Mahikeng.

 

 

 

 

Akkreditasie van uiterste belang

Die nuwe besigheidskool se AMBA-herakkreditasiebesoek is vir Oktober 2016 geskeduleer. Wat die besigheidskool se personeel en die NWU se bestuur aanbetref, is die akkreditasie ononderhandelbaar. “Die AMBA-akkreditasiebesoek sal al drie kampusse insluit, aangesien die MBA op al drie kampusse aangebied sal word,” sê Tommy.

 

“Die nuwe vlak 9-MBA is op 1 Januarie 2016 bekendgestel en is 100% belyn op al drie kampusse, so ook die Nagraadse Diploma in Bestuur, wat ongeveer 80% belyn is (die enigste verskil is die keusevakke). Dus, wat vakinhoud en assessering aanbetref, bied die drie kampusse dieselfde kwalifikasies aan,” sê prof Jan Meyer, waarnemende direkteur van die voormalige NSSRL.

 

 

Alle lesingfasiliteite sal van internasionale standaard wees en sal definitief aan die AMBA-kriteria voldoen. Dit verwys na die estetiese “voorkoms en gevoel” van die fasiliteite, sowel as tegnologiese gevorderdheid van toerusting soos Wi-Fi en videokonferensieapparaat.

Een verenigde besigheidskool
vir die NWU

Prof Tommy du Plessis,

waarnemende direkteur van die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur.

Teenwoordiges by die MBA-opening op die Potchefstroomkampus: prof Christo Bisschoff, bestuurder van die MBA-studieskool, Kevin Horsley, gasspreker, prof Ronnie Lotriet, MBA-programbestuurder, en prof Jan Meyer van Mafikeng. Die aankondiging van die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur is  gedurende die MBA-opening gemaak.

Vrae en antwoorde

Tommy antwoord ʼn paar vrae oor die nuwe besigheidskool.

 

V: Wat beskou jy as die opwindendste aspek van die verenigde besigheidskool?

A: Die boodskap van die unifikasie kom al ʼn ver pad. Ons was aanvanklik bekommerd oor wat die mark se reaksie sou wees en of potensiële studente dit goed sou ontvang. Te oordeel aan vanjaar se inskrywingsyfers is dit egter duidelik dat studente net so entoesiasties is soos ons. Daar was ʼn beduidende toename in studentegetalle.

 

Die personeel se houding maak my ook baie trots. Almal is daartoe verbind om sukses op al drie kampusse te verseker.

 

V: Enige opwindende nuwe verwikkelings?

A: Die Baccalaureus in Besigheidsadministrasie (BBA) is splinternuut vir ons. Ander nuwe programme sluit in die afstandsleeropsie vir die nagraadse diploma. Dit is steeds ʼn droom van ons om eendag ʼn MPhil-graad aan te bied.

V Wat sal die fokuspunt wees?

A: Ons wil ʼn skool hê wat nie net internasionaal geakkrediteer is nie, maar ook internasionaal gereken word vir gehalte. Dit is waarom ons gaan fokus op internasionalisering deur samewerkingsooreenkomste met internasionale besigheidskole. Ons wil ook ons merk maak op die vasteland – dit is ʼn groot prioriteit vir ons.

 

Ek glo dat ons ook ʼn leidende rol in afstandsleer kan speel.

 

V: Watter bydrae wil die nuwe besigheidskool in die Suid-Afrikaanse samelewing maak?

A: Ons wil studente lewer wat oor die vermoë beskik om strategies te dink en strategiese leiers te word. Al ons programme en modules is daarop gemik om opleiding te verskaf aan studente wat nie net goeie bestuurders sal word nie, maar wat ook sal kan lei met strategiese denke.

 

Suid-Afrika kort entrepreneurs, en ons bevorder entrepreneurskap in al sy moontlike vorms.

 

Derdens het ons heelwat ervaring opgedoen met die opleiding van openbaresektorbestuurders op die Mafikengkampus. Ons wil ʼn sin vir besigheid bevorder onder senior bestuurders in daardie sektor.

 

 

>

>