'n Splinternuwe biblioteek vir 'n nuwe generasie. Elsa Esterhuizen, voormalige direkteur vir biblioteekdienste, en Neli Kaunda, nuutaangestelde direkteur, deel 'n liefde vir inligting. Neli se visie vir die biblioteek is om 'n instaatstellende fasiliteit te skep wat 'n bydrae tot die sukses van die NWU sal lewer wat betref hulpbronne, dienste en produkte. “Hierdie biblioteek moet 'n voorkeurbestemming vir alle studente en personeel wees.”

>

BEWEEG AF

>

 

>

>

Die Ferdinand Postma-biblioteek op die Potchefstroomkampus is ernstig oor transformasie. Eish! het met Elsa Esterhuizen, voormalige direkteur vir biblioteekdienste, en met Neli Kaunda, die nuwe direkteur, oor die biblioteek se transformasiehoogtepunte gesels.

Beweeg af

Neli Kaunda is sedert 1 Januarie vanjaar die nuwe direkteur vir biblioteekdienste. Sy het 'n uitgebreide agtergrond van 18 jaar in akademiese biblioteekwese en het 'n meestersgraad in biblioteek- en inligtingsdienste wat sy aan die Clark Atlanta-universiteit in Atlanta, Georgia, VSA verwerf het.

 

Neli het by die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir Blindes in Grahamstad gewerk voordat sy by die NWU aangesluit het. Sy het voorheen by die universiteite van Johannesburg en KwaZulu-Natal en by Wits gewerk en, as gekwalifiseerde onderwyser, biblioteekbestuurswetenskappe by VOO-kolleges aangebied.

 

Sy is getroud met Nathan, 'n chemiese ingenieur, en hulle het vier kinders van vier, 10, 16 en 17.

Ontmoet die nuwe direkteur vir biblioteekdienste

Die Ferdinand Postma-biblioteek, middelpunt van kennis en hulpbronne, het 'n ware metamorfose van fasiliteite, personeel en dienste ondergaan.

 

Elsa Esterhuizen, wat aan die einde van 2015 afgetree het, sê een van die belangrikste hoogtepunte was die gedaanteverwisseling van die ou biblioteekgebou (wat uit 1951 dateer) na 'n splinternuwe, toonaangewende fasiliteit wat vir voorgraadse en nagraadse studente voorsiening maak en toeganklik is vir mense met fisiese gestremdhede.

 

Ontwikkeling van mensekapitaal

Die biblioteek was besonder suksesvol op die gebied mensekapitaalontwikkeling. Hulle bevorder billikheid en transformasie aktief en het nou, vir die eerste keer in die biblioteek se geskiedenis van 60 jaar, 'n swart bestuurder aangestel.

 

Verder is ses personeellede met die nodige kwalifikasies, kundigheid en ervaring bevorder of in hoër poste aangestel.

 

Elsa sê die biblioteek het 'n daadwerklike poging aangewend om personeel te help om hul kwalifikasies te verbeter. “In die afgelope jaar het 38 persent van ons personeel deeltyds studeer, en het drie van hierdie personeellede vir kursusse in Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding ingeskryf.”

 

Opwindende nuwe e-dienste

Dit is nie net die biblioteek se fasiliteite en personeelkorps wat transformeer nie. Neli Kaunda, die nuwe direkteur, gaan die klem op e-navorsing versterk en probeer om alle navorsing op 'n e-platform te digitaliseer om dit maklik toeganklik vir almal te maak.

 

Neli is oortuig dat navorsing wat tans op persoonlike rekenaars of iewers in bokse gestoor is makliker bekombaar en meer toeganklik en bruikbaar sal wees as dit eers gedigitaliseer is.

 

Die geheim van sukses

Elsa sê die hoofrede vir die biblioteek se transformasie-suksesverhaal is die hoeveelheid ontwikkelingsgeleenthede wat aan personeel beskikbaar is. “Daar is 'n paar posisies wat vir billikheidsaanstellings geoormerk is. Ons probeer ons personeel ontwikkel en ons adverteer intern om te verseker dat hulle die toepaslike geleenthede kry.”

 

Doeltreffendheid is ’n prioriteit en Neli vertel hoe belangrik dit is dat alle personeellede vir die volle agt ure van 'n werksdag besig bly. “Wanneer ons agterkom dat daar 'n tekort in 'n ander departement is, herontplooi ons personeel eerder as om vir nuwe mense te vra. Laasgenoemde word eers oorweeg nadat alle ander moontlikhede uitgeskakel is.”

 

Elsa voel sterk dat suksesvolle transformasie van drie belangrike elemente afhang, naamlik dienste, hulpbronne en fisiese fasiliteite. “Ons biblioteek kan nou op nasionale en internasionale vlak meeding,” sê sy.

 

Die aantreklikheid van die biblioteek kan gemeet word aan die hoeveelheid studente wat verkies om daar te wees eerder as om tuis of by hul koshuise te studeer.

 

“Dis lekker om by die biblioteek te wees,” sluit sy af.