Wat sê ons ondersteunings-personeel?

“Wel gedaan. Wat ʼn wonderlike gebeurtenis. So baie dinge om te oorweeg en toe te pas.”
– Johan Erasmus, afdelingshoof vir kwaliteitskoördinering, projekte en logistiek op die Potchefstroomkampus.

“Ek het dit baie geniet om my kollegas te sien. Die kos was uitstaande en Dorianne was wonderlik. Ek het baie geleer.”
– Marit Woudstra van Studentevoorligting op die Potchefstroomkampus.

“Dit was ʼn ervaring. Ek sien al klaar uit na volgende jaar se indaba!”
– Ilana Coetzee, sielkundige by Ingryp@SCD op die Potchefstroomkampus.

Luister na ’n uittreksel uit Dorianne Weil
se motiveringspraatjie te luister.

Hoe sluit mens ʼn jaar vol uitdagings af?

Jy bied ʼn suksesvolle indaba aan wat personeel ophef, motiveer en aanmoedig om gereed te wees vir ʼn nuwe jaar wat beloof om talle veranderinge, uitdagings en nuwe geleenthede te bring.

INDABA

motiveer en inspireer

Die span van die Kwaliteitskantoor het verseker dat Indaba 2015 ʼn groot sukses was. Hulle is, agter: dr Jannie Jacobsz, direkteur van die Kwaliteitskantoor, Antoinette Vermeulen, kwaliteitsbestuurder vir akademiese programme en Jadrique Krüger, deeltydse assistent in die Kwaliteitskantoor. Voor is Tommy Pietersen, senior administratiewe beampte, Johanna Müller, kwaliteitsbestuurder vir ondersteuningsdienste, en Dorianne Weil, motiveringspreker.

Die institusionele Kwaliteitskantoor het aan die einde van 2015 hul vierde suksesvolle indaba aangebied en personeel van al drie kampusse en die Institusionele Kantoor ʼn hupstootjie vir 2016 gegee.

 

Sowat 130 personeellede het die indaba bygewoon. Volgens Johanna Müller, kwaliteitsbestuurder vir ondersteuningsdienste, was die personeel se reaksie oorweldigend. “Hulle almal het gesê dit was ʼn wonderlike geleentheid wat hulle positief en gemotiveerd laat voel het.”

 

Kundige spreker motiveer personeel

Die jaarlikse indaba is bekend vir die gehalte van sy motiveringsprekers, en vanjaar was geen uitsondering nie. Die bekende kliniese en bedryfsielkundige, Dorianne Weil, alias “Dr D”, was ʼn inspirasie vir almal wat daar was. Haar boodskap was duidelik: die lewe is taai, maar ek is taaier.

 

“Die lewe loop selde ’n reguit pad. Dit het nou maar eenmaal die vermoë om mens onkant te betrap, en dit kan mens óf verlam óf met energie vul. Hoe ons hierdie soms lewensveranderende momente of gebeurtenisse hanteer, bepaal die gehalte en aard van die pad vorentoe,” sê Dorianne.

 

 

 

Haar raad aan personeel is om nuwe ambisies en drome te skep en om ag te slaan op hul innerlike self. “Jy is wie jy glo jy is; daarom is dit nodig om groter te droom. Die belangrikste is hoe jy jouself sien.”

 

Geleentheid om hande te vat

“Die indaba is die één geleentheid in die jaar waar ondersteuningspersoneel van die verskillende kampusse en die Institusionele Kantoor met mekaar kan gesels oor hul professionele lewens en die faktore wat ʼn impak op hulle het,” sê Johanna. “Hier kan hulle hande vat en mekaar ondersteun.”

 

Johanna sê die doel van die indaba is om te bemagtig en, te oordeel aan die aantal e-posse wat sy van personeel ontvang het, het die indaba dit weereens reggekry.

 

“Dit is duidelik dat daar ʼn groot behoefte daaraan is. Ons kom almal voor dieselfde uitdagings en probleme te staan, maar ons moet ook ons prestasies met mekaar deel. Ons moet mekaar daaraan herinner dat ons nie alleen is nie; ons is deel van ʼn groot familie wat nie nét daar is om die universiteit se akademici te ondersteun nie, maar ook mekáár.”

 

 

 

>

>