November 2023

facebook
youtube
facebook
twitter
email
More research news
Terug
Volgende
socialmedia

Die ingewikkelde verband tussen heuningbye
se soeke na kos en hulle kleurvoorkeure

Die betowerende wêreld van heuningbye se kossoekgedrag fassineer wetenskaplikes al lank, met kleur wat 'n vername rol in die bye se soektog na voedsel speel. Bye is noodsaaklike bestuiwers wat die sleutel tot die handhawing van die delikate balans van ons ekostelsels hou.

NWU-student Kimani Waiyaki se navorsing het na die ingewikkelde verband tussen heuningbye se kossoekgedrag en hulle kleurvoorkeure gekyk. Sy navorsing, getiteld "Unlocking the world of bee vision: Apis Mellifra's colour preferences", het verrassende bevindings opgelewer wat moontlik verreikende implikasies vir die bewaring van bye en ons begrip vir hulle sig kan inhou.

Kimani sê heuningbye tydens hulle vlug om kos te soek 'n kaleidoskoop van blomsoorte teëkom, wat elkeen 'n verskeidenheid pigmente en kleure vertoon.

"Ten spyte van hierdie visuele diversiteit toon hierdie merkwaardige bestuiwers ingebore voorkeure vir spesifieke kleureienskappe. Dit is opmerklik dat bye gelok word na kleure wat deur blou golflengtes oorheers word, na kleurtinte met 'n hoë kontras, en dié wat deur 'n hoë spektrale suiwerheid gekenmerk word. Hierdie verskynsel laat die vraag ontstaan: Hoe reageer bye op kleure wat hierdie voorkeure uitdaag?"

Kimani het probeer om die kompleksiteit van heuningbye se sig te bepaal deur vir werkerbye van kolonies wat bestuur word suikerstroop in verskillende pigmente, insluitende rooi, geel, groen en blou, aan te bied. Die resultate van hierdie eksperiment het lig gewerp op die ingewikkelde wêreld van heuningbye se kleurvoorkeure.

Rooi produseer verrassende resultate

"Vreemd genoeg daag hierdie navorsingsbevinding die konvensionele wysheid uit. Dit het geblyk dat rooi suikerstroop die aanloklikste keuse vir die bye was, en het vorige studies weerspreek wat beweer dat heuningbye beperkte sensitiwiteit vir rooi golflengtes toon. Hierdie bevinding is 'n beduidende deurbraak in ons begrip van heuningbye se gedrag en hulle genuanseerde verwantskap met kleur," sê hy.

Die implikasies van hierdie bevindings is van groot belang, aangesien dit geleenthede bied om die aantreklikheid te bevorder van kunsmatige diëte om heuningbykolonies te bewaar.

"Deur hierdie diëte met die heuningbye se ingebore predisposisies te belyn, kan ons potensieel die gevolge van die verlies aan habitat op die bye se natuurlike kossoekgedrag versag. Dit is veral noodsaaklik in 'n gebied waar heuningbybevolkings as gevolg van verskeie omgewingsfaktore bedreig word," voeg Kimani by.

"As ons heuningbye se kleurvoorkeure verstaan, word nie slegs byeboere en diegene wat by die bewaring van bye betrokke is, bevoordeel nie, maar dit het ook wyer ekologiese implikasies. Bye speel 'n noodsaaklike rol in die bestuiwing van plante, wat op hulle beurt 'n impak op biodiversiteit, oesopbrengs en die gesondheid van ons ekostelsels het. Deur vir die visuele voorkeure van hierdie hardwerkende bestuiwers voorsiening te maak, kan ons hulle kossoekgedrag aanmoedig en hulle kritieke rol in die handhawing van die balans van ons natuurwêreld ondersteun."

Namate wetenskaplikes voortgaan om die geheime van heuningbye se sig en gedrag te ontsluit, word dit toenemend duidelik dat 'n genuanseerde benadering tot bewaring en volhoubare praktyke noodsaaklik is. Die nederige heuningby, met sy ingewikkelde verwantskap met kleur, hou die sleutel tot 'n gesonder en lewendiger planeet.