November 2023

facebook
youtube
facebook
twitter
email
More research news
Terug
Volgende
socialmedia

Kleinhandelaars moet aan Millenniërs bemark
of iets misloop


Prof Roland Goldberg

Verbruikerspatrone is besig om te verander en kleinhandelaars moet by nuwe dinamika aanpas indien hulle wil oorleef. 'n Groot dryfveer agter die verskuiwing in kooppatrone is die generasie wat tussen 1981 en 1996 gebore is: Millenniërs.

Dit is volgens nuwe navorsing wat deur prof Roland Goldberg en prof Johan Gouws van die Skool vir Bestuurswetenskappe uitgevoer is.

Hulle studie, getiteld "The preferred retail format of Millennials in South Africa", het na die koopvoorkeure van Suid-Afrikaanse Millenniërs gekyk.

Wat Millenniërs van vorige generasies onderskei – volgens prof Goldberg en prof Gouws – is dat hulle dikwels goed op hoogte met tegnologie is, uiteenlopend is en 'n maatskaplike bewustheid het. Hulle het in 'n tyd van vinnige tegnologiese vordering grootgeword en van kleins af toegang tot die internet en mobiele toestelle gehad. As gevolg daarvan het hulle 'n groot voorkeur vir digitale kommunikasie en sal meer geneig wees om sosiale media en aanlyn platforms te gebruik om handelsmerke na te vors en besluite oor aankope te neem.

Millenniërs is ook die grootste generasie in die huidige arbeidsmag en vorm dus so 'n groot deel van die hedendaagse werkplek.

"Hulle handhaaf ook 'n werk-lewe-balans, soek na beroepe om met hulle waardes ooreen te stem, en verkies 'n samewerkende en inklusiewe werkskultuur. Hierdie generasie is geneig om 'n sterk entrepreneursgees te openbaar en is meer geneig om vir hulleself te werk, asook om 'n begeerte te hê om hulle eie besighede te begin," sê die twee navorsers.

Millenniërs is voorts daarvoor bekend dat hulle meer spaarsamig en waardebewus is as vorige generasies. Hulle sal waarskynliker ervarings prioritiseer eerder as om materiële besittings te hê en toon 'n groot belangstelling in volhoubare en maatskaplik-verantwoordelike produkte.


Prof Johan Gouws

Daarbenewens is Millenniërs nie so lojaal teenoor handelsmerke nie en is gewillig om tussen handelsmerke te wissel op grond van gerief, gehalte en prys.

Geboue het nog steeds hulle plek

Of Millenniërs in Suid-Afrika kies om aanlyn te koop of nie, hang van die produkte af wat hulle wil koop.

Hoewel die ontwikkeling en gebruik van aanlyn inkopieplatforms in Suid-Afrika teen 'n ongeëwenaarde tempo toeneem, met al hoe meer kliënte wat produkte en dienste aanlyn ondersoek en koop, het winkelgeboue steeds hulle plek. Kliënte verkies fisiese winkels wanneer hulle vars produkte, items met 'n hoë waarde en klere aankoop, terwyl hulle aanlyn platforms gebruik om winskopies aan te skaf.

Om hierdie tendense te benut, moet kleinhandelaars slim wees, sê die studie. "Inkopiesentrums moet hulle bemarkingspogings meer gerig maak en verpersoonlik om Millenniërs te lok. Vir inkopiesentrums om ten opsigte hiervan innoverend en strategies te wees, is dit egter nodig dat hulle bestuur 'n goeie begrip moet hê van waar Millenniërs tans koop en waar hulle verkies om sekere produkte te koop."

Hoewel die getal mense in inkopiesentrums tydens die Covid-19-inperking dramaties afgeneem het, het die Eighty20-navorsingskonsultasie-agentskap gerapporteer dat die grootste inkopiesentrums in Suid-Afrika nou weer op voor-Covid-vlakke is.

Kleinhandelaars wat meer Millenniërs wil lok, moet daarop let dat hierdie kopers die tipe fisiese kleinhandelaars oordeelkundig kies, gegrond op faktore soos ligging en die produkte wat hulle soek. Vir daaglikse noodsaaklikhede verkies hulle plekke in hulle omgewing of interessante boetieks, veral wanneer hulle min tyd het of nie 'n samedromming by 'n winkel wil hê nie.

Uiteindelik is winkelgeboue steeds 'n groot aantrekkingskrag vir Millenniërs, veral as 'n mens daaraan dink hoe groot die verskeidenheid van hulle inkopiegewoontes is.

Hoewel Millenniërs self genuanseerde behoeftes het, is die boodskap aan kleinhandelaars duidelik: Bemark aan Millenniërs, of loop die risiko om hulle koopkrag te verloor.