Desember 2022

NWU lewer uitnemendheid in navorsing

Welkom by die sewende uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

socialmedia

NWU-navorser wys die weg aan oor hoe
om akademiese integriteit te bevorder

Die akademiese wêreld kan maklik deur oneerlikheid en plagiaat geïnfiltreer word, veral in moeilike tye soos die afgelope twee jaar van die Covid-19-pandemie. Goeie akademiese praktyk is noodsaaklik vir dosente en studente.

Prof Anné Verhoef, direkteur van die Skool vir Filosofie, is 'n vurige voorstander van akademiese integriteit en het sy navorsing om die vestiging van 'n Gemeenskap van Praktyk vir Akademiese Integriteit (Community of Practice for Academic Integrity, CoPAi) gesentreer.

Hy het saam met integriteitspesialiste en werkspanne regoor die universiteit gewerk om 'n CoPAI te vestig en die studente-ervaring van akademiese integriteit en eerlikheid by die NWU te dokumenteer.

Onder die spesialiste en spanne is dr Mariëtte Fourie, Kwaliteitsbestuurder: Akademiese Programme by die Kwaliteitsbevordering-kantoor, spanne van die NWU se fakulteite en Studenteregsdienste, asook dr Yolandi Coetser, senior lektor by die Skool vir Filosofie.

"Hoewel goeie navorsing oor akademiese integriteit in die aanlyn omgewing beskikbaar is, het die Covid-19-pandemie die bestuur van akademiese integriteit moeilik gemaak. Die navorsing wat ons doen en die projekte wat ons in hierdie verband aanpak, is uniek en is baanbrekerswerk, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal.

"Ons werk bied baie moontlikhede om 'n impak op die bestuur van akademiese integriteit deur hoëronderwysinstellings wêreldwyd te maak," sê prof Verhoef.

'n Eerste vir Suid-Afrika

Die NWU was een van die eerste universiteite in Suid-Afrika om tydens die pandemie navorsing oor akademiese integriteit in die onderrig- en leeromgewing te doen.

Hierdie navorsing het tot drie navorsingsuitsette gelei. "Ons het eerstens aan die begin van 2022 'n aanbieding oor die CoPAI in Portugal by die Europese Netwerk vir Akademiese Integriteit gedoen. Nadat hulle baie entoesiasties op CoPAI gereageer het, het ons besef dat internasionale universiteite hierdie behoefte deel om hulle eie CoPAI's te ontwikkel."

Die tweede uitset was 'n artikel wat prof Verhoef en dr Coetser vir Transformation in Higher Education geskryf het.

Hierdie artikel is in slegs 'n paar maande se tyd meer as 14 keer aangehaal, wat toon dat die navorsing internasionale erkenning ontvang en 'n impak maak.

'n Artikel oor die NWU se CoPAI is ook in die International Journal for Educational Integrity in Kanada gepubliseer.

Dit het daartoe gelei dat die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie vir prof Verhoef gevra het om vir hulle Internasionale Instituut vir Onderwysbeplannning 'n blogplasing skryf en om aan ander universiteite advies te gee oor hoe hulle dieselfde praktyke kan vestig.

immagine1

Prof Anné Verhoef

Hoe funksioneer die CoPAI?

Deelname aan die CoPAI is vrywillig. Deelnemers deel beste praktyke, skep en deel kennis in die vorm van navorsing en praktiese onderrig- en leeruitsette, en kweek nasionale en internasionale samewerking oor akademiese integriteit. Al hierdie dinge ondersteun die totstandkoming van 'n CoPAI-identiteit by die NWU.

"Die NWU se CoPAI het op verskeie maniere tot die bevordering van akademiese integriteit aan die NWU bygedra en ons in staat gestel om van die heel belangrikste behoeftes vir die verdere uitbouing van akademiese integriteit te identifiseer."

Lees die artikels:

Waarom samewerking so noodsaaklik is

Hy sê dat die CoPAI die gevolg van twee verwikkelings was. Die eerste was dat akademiese integriteit met die skielike verskuiwing na aanlyn onderrig, leer en assessering in 2020 'n dringende saak geword het. Die tweede verwikkeling was die prominensie wat akademiese integriteit verkry het ná die jaarlikse NWU-forum in Mei 2021 toe personeel besef het dat daar 'n behoefte aan 'n samewerkende en geïntegreerde benadering tot akademiese integriteit is.

Dit het verder gelei tot gereelde forums waar dosente en studente hulle ervarings kon deel, raad kon vra en beste praktyke kon aanbeveel. Verskillende internasionale sprekers het ook 'n bydrae tot hierdie forums gelewer.

Die CoPAI het sedert sy ontstaan verteenwoordigers van alle programme, fakulteite en departemente van die NWU ingesluit.

Wat lê vir ons voor?

Die volgende groot projek gaan wees om 'n volledige standaardbedryfsprosedure (SBP) vir onderrig en leer te ontwikkel. "Dit is reeds in "n gevorderde stadium en het al voor die NWU se Senaat gedien. Dit is nou weer vir verdere insette na die fakulteite teruggestuur."

Prof Verhoef sê daar is baie navorsingsmoontlikhede wat hieruit voortspruit. "Ons het vasgestel dat ander universiteite nie geïntegreerde stelsels of prosedures vir die bestuur van akademiese integriteit in onderrig en leer het nie, hoewel party van hulle stelsels in die navorsingsomgewing het."

Die NWU ontwikkel tans die SBP saam met opvoedkundige materiaal en die rekenaarstelsels om dit te ondersteun. Dit sal 'n loodsprojek vir vroeg volgende jaar by die Fakulteit Regte, die Skool vir Professionele Studies by die Fakulteit Opvoedkunde, en die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels wees.

"Ons voorsien dat dit tot verdere navorsingsuitsette en moontlik 'n boek, asook internasionale samewerking, sal lei."

 TERUG:
Gebruik die reg om geregtigheid
en volhoubaarheid te bevorder
 VOLGENDE:
Mislukking van banke in Zimbabwe is gevolg
van swak regulatoriese toesighouding
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.