Desember 2022

NWU lewer uitnemendheid in navorsing

Welkom by die sewende uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

Mislukking van banke in Zimbabwe is die gevolg van swak regulatoriese toesighouding, bevind studie

Die algemene mislukking van banke in Zimbabwe oor die afgelope 20 jaar is nou verklaar: 'n vername rede is die ontoereikende toesighouding oor bankinstellings deur die Reserwebank van Zimbabwe (RBZ) en ander regulatoriese liggame.

Dit is volgens die doktorale studie van Menelisi Ncube, wat onlangs as 'n doktor in die regte in handelsreg by die NWU gegradueer het.

Menelisi het in sy studie ondersoek waarom die bankinstellings in Zimbabwe vanaf ongeveer 2002 af tot nou toe misluk het.

Sy tesis is getiteld "A comparative statutory analysis of the regulation and supervision of banking institutions in Zimbabwe".

Menelisi het die talle mislukkings van banke in Zimbabwe sedert 2002 aan verskeie faktore toegeskryf.

immagine1

Dr Menelisi Ncube

Hierdie faktore sluit in swak regulatoriese toesighouding en swak toepassing van die behoorlike korporatiewe beheermaatreëls, kredietrisikobestuur en bankbedrogstrategieë, asook die swak aanwending van geskikte moderne tegnologie.

Sy tesis het 'n vergelykende ontleding ingesluit van die regulatoriese en toesighoudende strategieë in ander lande soos Suid-Afrika, Kanada en die Verenigde Koninkryk, veral tydens die Covid-19-pandemie.

"Ek het daarom 'n nuwe model voorgestel vir streng regulering van en toesighouding oor bankinstellings in Zimbabwe om die mislukkings wat voorgekom het, hok te slaan," sê Menelisi.

"Dit sluit in 'n oorgang na 'voldoen daaraan, of anders'-benadering in plaas van die 'voldoen daaraan, of verduidelik'-benadering wat tans vir korporatiewe beheermaatreëls ten opsigte van bankinstellings in Zimbabwe geld."

Daar word gehoop dat Menelisi se bevindings onder die aandag van die Zimbabwiese beleidsmakers sal kom sodat regulatoriese skuiwergate toegestop kan word.

 TERUG:
NWU-navorser wys die weg aan oor
hoe om akademiese integriteit te bevorder
 VOLGENDE:
NWU-akademikus praat oor
haar B2-NNS-gradering
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.