Desember 2022

NWU lewer uitnemendheid in navorsing

Welkom by die sewende uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

immagine1

Prof Mitzi Wiese

Gebruik die reg om geregtigheid en volhoubaarheid te bevorder

Wanneer dit kom by die soek van innoverende oplossings vir die maatskaplike en omgewingsuitdagings wat Suid-Afrika moet hanteer, is die Navorsingseenheid vir Reg, Geregtigheid en Volhoubaarheid van die NWU aan die voorpunt.

"Die navorsingseenheid benut die reg om innoverende juridiese oplossings te kry om as 'n lid van die internasionale gemeenskap van state en as 'n invloedryke land op die Afrika-kontinent geregtigheid en volhoubaarheid in Suid-Afrika en die streek te bevorder.

"Ons fokus op menslike kwesbaarheid, omgewingsverandering, geregtigheid in praktyk en finansies, handel en innovasie," sê die navorsingsdirekteur van die eenheid, prof Mitzi Wiese.

Volgens prof Wiese het die navorsingseenheid verskillende projekte wat belangrike en oorvleuelende kwessies hanteer wat die openbare sowel as die privaat sektor raak. "Al die voltydse akademiese personeellede van die Fakulteit Regte neem in een van die vier aktiewe navorsingsprojekte aan die werk van die navorsingseenheid deel."

Die Omgewingsverandering-projek fokus sy navorsing op die koppelvlak tussen omgewingsvolhoubaarheid, omgewingsgeregtigheid, omgewingsbeheer en die reg. Geografies dek die navorsing in hierdie projek aspekte van omgewingsreg op internasionale vlak, Afrika-streeksvlak en Suid-Afrikaanse omgewingsreg en -beheer.

Aangesien die wêreld steeds besig is om te ontwikkel, moet die reg daarmee saam ontwikkel. Dit is veral waar op die gebied van finansies, handel en innovasie, wat 'n noodsaaklike rol in die ontwikkeling van en wisselwerking tussen die "werklike" en "virtuele" wêrelde van die samelewing vervul. Die primêre fokus van die projek is om finansies, handel en beleggings te bevorder soos dit deur onder andere die gebruik van nuwe tegnologieë en ander ontwikkelings beïnvloed word. Dit word verkry deur multidissiplinêre navorsing op 'n baie wye gebied van die reg te doen – insluitende arbeidsreg, insolvensie en oorgrens-insolvensie, versekeringsreg, openbare verkryging, virtuele eiendom, internetreg, voorkoming van markmisbruik en -manipulering, elektroniese transaksies, asook alternatiewe geskiloplossing. Hierdie projek dra in wese by tot die afbreek van regstruikelblokke om die voordelige ontwikkeling van finansies, handel en innovasie te verseker.

Lede van die Geregtigheid in Praktyk-projek fokus hulle navorsing op die praktiese impak van die reg op die samelewing. Vrae rondom die reg en geregtigheid is veral van belang. Die navorsing in die projek dek 'n wye reeks regsgebiede, insluitende eiendom, grondhervorming en onteiening, dekolonialisasie, gesins- en kinderregte, LGBTO+-regte, grondwetlike interpretasie, die impak van internasionale reg op die Suid-Afrikaanse reg, persoonlike regte, regsopvoeding, en die reg en taal.

Navorsing wat uitgevoer word deur deelnemers aan die Kwesbare Gemeenskappe-projek hanteer 'n groep onderwerpe wat aan die kwesbaarheid van lede in die samelewing gekoppel word. Kwesbaarheid verwys na die eienskappe van 'n persoon of groep en hulle situasie wat hulle vermoë beïnvloed om die impak te antisipeer, te hanteer en te herstel van faktore soos die fisieke, die ekonomiese, die omgewing, die politieke, die institusionele, chroniese armoede, godsdiens, etnisiteit, werkloosheid, voedselonsekerheid, gender, kultuur, menseregteskendings, marginalisering, welstand, opvoeding, gesondheid, maatskaplike beskerming en maatskaplike verantwoordelikheid. Die oorkoepelende doelwit van hierdie subprojek is om innoverende, juridiese oplossings te vind om die belange van samelewings in Suid-Afrika en wêreldwyd te bevorder deur die kwessies te hanteer wat hulle kwesbaar maak.

"Suid-Afrika funksioneer binne die konteks van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings-gemeenskap (SAOG), die Afrika-unie en internasionale reg, en verskeie van die projekte ondersoek dus hierdie verhouding," sê prof Wiese.

Die navorsingseenheid huisves ook die SARChI-leerstoel in Stede, die Reg en Omgewings-volhoubaarheid (SARCHi CLES). CLES is 'n akademiese instelling wat aan die ontwikkeling van vakkundigheid in die reg en navorsingsvaardighede vir volhoubare stedelike ontwikkeling in Suid-Afrika, die breër Afrika-streek en verder toegewy is. Die leerstoel huisves talle voltydse postdoktorale genote en nagraadse studente wat verder op die oorvleuelende gebied van die regte, beheer, stedelike ontwikkeling en omgewingsvolhoubaarheid studeer.

"Die fakulteit is ook trots daarop om verskeie vooraanstaande nasionale en internasionale vakkundiges en die NNS-gegradeerde navorsers in die P-, Y-, C- en B-kategorieë by ons navorsingsprojekte te hê," sê prof Wiese. "Die navorsingseenheid is voorts gefokus op mentorskap van jonger en minder ervare navorsers. Ons glo dat ons mentorskapprogram sal help om hierdie navorsers in ervare navorsers te ontwikkel sodat hulle eie akademiese loopbane bevorder kan word en hulle 'n bydrae tot die projekte van die navorsingseenheid kan lewer."

 TERUG:
Suid-Afrika
se water-rebelle
 VOLGENDE:
NWU-navorser wys die weg aan oor
hoe om akademiese integriteit te bevorder
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.