Julie 2022

NWU doen navorsing wat relevant is

Welkom by die vierde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

immagine1

Prof Nishanta Rajakaruna

Fulbright-vakkundige ondersoek die geheime van serpentynsteenekologie

'n Fulbright-vakkundige van die Verenigde State gaan vir 10 maande lank by die NWU se Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur aansluit om navorsing te doen op 'n gebied wat nog baie braak lê.

Daar is gapings in die kennis wat wetenskaplikes het oor plant- en insektespesies wat op serpentynsteen leef, en om hierdie gapings te oorbrug, kan van nut wees om die effek van klimaatsverandering te verstaan en so tot bewaring by te dra.

Prof Nishanta (Nishi) Rajakaruna van die California Polytechnic State University (Cal Poly) in San Luis Obispo gaan saam met prof Stefan Siebert van die geo-ekologielaboratorium op die Potchefstroomkampus werk.

"Prof Rajakaruna se studie ondersoek hoe chemies 'strawwe' geologiese omgewings soos serpentynsteen, wat baie swaar metale en min voedingstowwe bevat, die diversiteit, ekologie en evolusie van plante, ligene en mikrobes kan ondersteun, asook wat die effek van klimaatsverandering is op biota wat tot strawwe omgewings beperk is," sê prof Siebert.

Die studie van plante en ander biota wat met serpentynsteen en ander chemies "strawwe" substrate verband hou, het wêreldwyd grootliks tot ekologiese en evolusionêre teorieë bygedra, asook tot bewarings- en herstelpraktyke.

Prof Rajakaruna, 'n internasionale leier op die gebied van serpentynsteenekologie, is die medeskrywer en skrywer van 96 portuurbeoordeelde publikasies en twee toonaangewende boeke op hierdie gebied.

Bring sy kennis na Suid-Afrika

Hy verduidelik dat daar groot klipbanke van serpentynsteen op die groensteengordel van die Barbertonse berge in Mpumalanga en vanaf Potgietersrus tot by Duiwelskloof in Limpopo is. Kleiner klipbanke kom ook in die Witwatersrand en die Vredefortkoepel voor.

"Vaatplantfloristiek en die studie van plante en insekte met ongewone vermoëns om metale te akkumuleer, was tot dusver die primêre fokus van navorsing. Navorsing oor ander groepe is in Suid-Afrika beperk.

"Ek beplan om verskeie veld- en kweekhuis-gebaseerde navorsing saam met prof Siebert en sy studente te doen om die gapings in die vakgebied te probeer oorbrug," sê prof Rajakaruna.

Hy sê dat hierdie projekte sal fokus op die beskrywing van die diversiteit van vaatplante en briofiete op die edafies-klimaat-gradiënte regoor Suid-Afrika en om deur middel van X-straalfluoressensie-ontledings (XRF-ontledings) van herbariummonsters nuwe plante wat groot hoeveelhede nikkel akkumuleer, te ontdek.

Die span sal ook die aanpasbaarheidsbeduidendheid ondersoek van die hiperakkumulering van nikkel, veral deur die hipotese oor droogtetoleransie ten opsigte van die hiperakkumulering van metale te toets.

Benewens om saam met prof Siebert 'n module in geo-ekologie te onderrig, sal hy 'n gasdosent wees by verskeie voorgraadse kursusse wat op plantkunde fokus, insluitende omgewingsbotanie en plantekologie.

Hy sal ook deelneem aan die uitreikpogings van kollegas op die Limpopo-platteland, in die Lekwana-natuurreservaat en die NWU Botaniese Tuin.

Aktiewe leier op die gebied

Prof Rajakaruna het sewe van die nege internasionale konferensies oor serpentyn-steenekologie wat tot dusver gehou is, bygewoon, op die wetenskaplike advieskomitees van ses konferensies gedien, en in 2008 'n konferensie in Maine in die Verenigde State van Amerika georganiseer.

Hy is betrokke by aktiewe samewerkings in geo-ekologie in Iran, Rusland, Sri Lanka en Indië, asook in Suid-Afrika, waar hy 'n buitengewone professoraat by die Eenheid vir Omgewings-wetenskappe en Bestuur beklee. Dit is 'n ere-aanstelling wat verleen word aan voorste internasionale vakkundiges wat wetenskap op 'n spesifieke gebied in Afrika bevorder het.

Hy is tot dusver die medeskrywer van 96 portuurbeoordeelde publikasies in vaktydskrifte en hoofstukke in boeke, waarby talle voor- en nagraadse studente en ander navorsers van 21 lande betrokke was.

Hy is ook die medeskrywer van verskeie publikasies saam met prof Siebert, insluitende 'n onlangse publikasie in die South Africa Journal of Botany wat 'n nuwe genus en twee nuwe spesies ligene in Suid-Afrika beskryf, en 'n wêreldwye evaluering van tropiese ultramafiese ekostelsels in die Botanical Review.

Prof Rajakaruna het reeds in die afgelope ses jaar twee gesogte Fulbright US Scholar-toekennings ontvang om basiese en toegepaste navorsing in die geo-ekologie van serpentyn-steen te bevorder.

Die eerste was 'n navorsings-toekenning aan Sri Lanka en Indië en die jongste is 'n onderrig- en navorsings-toekenning aan Suid-Afrika, waar hy beplan om saam met prof Siebert en sy studente aan verskeie geo-ekologiese projekte oor serpentynsteen te werk, en om te help om 'n nagraadse kursus in geo-ekologie aan te bied.

 TERUG:
Beter koördinasie en samewerking kan
voedselsekerheid in Suid-Afrika bevorder
 VOLGENDE:
Hoe die regulering van mobiele geld
finansiële insluiting 'n hupstoot kan gee
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.