Mei 2022

NWU se navorsing plaas kundigheid in die kollig

Welkom by die derde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

streetfood

Waarom vroeë sifting vir bloeddruk by kinders noodsaaklik is

Hoë bloeddruk of hipertensie is nie net 'n siekte by volwassenes nie, maar begin tydens die kinderjare en duur tot in volwassenheid.

In 'n studie wat deur die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) van die NWU uitgevoer is, beklemtoon navorsers die belangrikheid van sifting by kinders, veral swart kinders, vir verhoogde bloeddruk.

Die studie word "Elevated blood pressure positively associates with alpha-1 microglobulin in prepubescent children: the ExAMIN Youth SA study" genoem. Dit is gedoen onder leiding van prof Ruan Kruger, wat data gebruik het wat deur sy voormalige PhD-student, dr Ashleigh Craig, gepubliseer is.

immagine1

Prof Ruan Kruger

Die ExAMIN Youth SA-studie – wat staan vir oefening, arteriële modulasie en voeding by die jeug van Suid-Afrika (Exercise, Arterial Modulation and Nutrition in Youth South Africa) – ondersoek hipertensie onder skoolgaande kinders in die Mathlosana- en Tlokwe- munisipale gebiede van die Dr Kenneth Kaunda-distrik in Noordwes.

Die niere, wat 'n beduidende rol by bloeddrukregulering in die menslike liggaam speel, is die fokuspunt van die ExAMIN Youth SA-studie. Die navorsers het spesifiek gekyk na die verband tussen 'n merker van nierfunksie – alpha-1 mikroglobulien (A1M) – en die verband daarvan met bloeddruk by 957 gesonde swart en wit kinders van vyf tot nege jaar oud.

"Hierdie biomerker word uit urienmonsters gemeet en kan ons help verstaan wat die rol van die niere in die vroeë ontwikkeling van hoë bloeddruk by kinders is," sê prof Kruger.

Die studie het 'n aantal belangrike bevindings opgelewer.

Wanneer die A1M-vlakke tussen kinders met normale bloeddruk, dié met verhoogde bloeddruk en dié met hipertensie vergelyk word, het die swart kinders se A1M-vlakke met hoër bloeddruk toegeneem, wat nie by die wit kinders waargeneem is nie.

"Ons het gevind dat die diastoliese bloeddruk en A1M-vlakke meer as 10% hoër was by die groep swart kinders vergeleke met die groep wit kinders," sê prof Kruger.

"Ons het ook vasgestel dat die waarskynlikheid dat iemand hoë bloeddruk sal hê met 28% verhoog met elke gestandaardiseerde eenheidstoename in A1M by die swart groep, ongeag hulle ouderdom, geslag, LMI en lengte. Dit is nie by wit kinders as beduidend geïdentifiseer nie.”

Die hoër A1M-vlakke wat by swart kinders waargeneem is, stem ooreen met bevolkingsgebaseerde studies wat aandui dat die voorkoms van gewysigde nierfunksie groter is by swart bevolkings as by wit bevolkings.

Bloeddruk is positief met A1M by swart kinders geassosieer, wat toon dat daar 'n potensiële gevaar van vroeë kompromittering van proksimale tubulêre funksie vir die voorkoms van hoë bloeddruk by die groep swart kinders bestaan.

"Ons bevindings staaf 'n tweerigtingverband tussen hoë bloeddruk en die potensiële vroeë verandering in renale tubulêre funksie soos dit deur A1M beskryf word," sê prof Kruger.

Hy sê dat die bevindings drie belangrike stappe beklemtoon wat gedoen moet word om hipertensie, wat gesondheidsprobleme by kinders veroorsaak, te voorkom.

Eerstens is dit noodsaaklik om bloeddruksiftings vanaf 'n jong ouderdom te doen. Tweedens moet beter maniere gevind word om in spesiale bevolkings – soos kinders, en veral swart kinders – op die komplikasies van bloeddruk te fokus. Derdens moet strategieë ontwikkel word om vroeë voorkomingstrategieë by hoërisikobevolkings te bevorder.

 TERUG:
NNS-gradering vir die jongste
medeprofessor in dierewetenskap
 VOLGENDE:
Studie bevind dat ongeteerde
strate lugbesoedeling bevorder
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.